News

(Grafiese Inhoud) – Liggaamsdele dalk vir moetie gebruik

'n Leeumannetjie wat op 'n plaas buite Groblersdal vergiftig is, is deel van vyf leeus wat in die laaste paar weke in Limpopo doodgemaak en van hul liggaamsdele gestroop is, vermoedelik vir moetie.

Volgens kaptein Hennie Engelbrecht, die bevelvoerder van die veediefstaleenheid in Marble Hall, het die voorval reeds op 16 Mei plaasgevind, maar is daar eers hierdie week ‘n saak geopen. Hy sê dat daar moontlik drie verdagtes betrokke was in die stroop van dié dier.

Daar was ondermeer ‘n gat onder die heining na die leeu se kamp gegrou en die omheining is ook op ‘n plek geknip.

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, sê dat die bruin leeumannetjie vergiftig is en dat sy kop en voorpote afgekap is.

Die eienaar van die plaas in die Groblersdal omgewing, wou glad nie met Die Daller praat oor die voorval nie. Hy het ook geweier dat sy eie of sy plaas se naam bekend gemaak word.

Die plaaslike voorval is volgens Carla van der Vyver, hoof uitvoerende beampte van South Africa Predator Association, een van vier wat sedert Desember aangeteken is. In al die voorvalle is die leeus se koppe en pote afgekap.

Volgens haar het die eerste voorval in Rustenburg in Desember plaasgevind, toe twee leeumannetjies doodgemaak is. Dit was vir maande stil tot die volgende voorval in Stockpoort, net buite Lephalale, verlede week gerapporteer is. Twee wit leeuwyfies is vergiftig en hul koppe en pote is afgekap.

Die derde voorval het Maandag in Bela-Bela plaasgevind toe ‘n leeumannetjie en wyfie doodgemaak en onthoof is.

“By al die voorvalle buiten vir die een op Groblersdal, was daar volgens die voetspore, twee mense wat die diere afgemaai en vermink het. In al die gevalle is vleis met gif gebruik wat in die leeus se kampe gegooi is. Al die leeukampe waarin daar diere vergiftig is, is uitgerus met dubbel omheining wat geknip is om toegang tot die kamp te kry.

“Die stropers het gewag tot die diere doodgaan voor hul ingegaan en hulle koppe en pote afgesny het. Ons kan ook sien dat hierdie ouens is wat weet wat hulle doen, dit was skoon snitte.

Me. Van der Vyver sê dat die laaste voorval in Bela-Bela uniek is omdat die leeumannetjie bykans 80 meter ver gesleep is.

“Hierdie moes ontsettende sterk mans gewees het, aangesien ‘n leeu mannetjie 180kg weeg.”

Met die Bela-Bela voorval lyk dit asof die gif nie vinnig genoeg vir die stropers gewerk het nie, en hulle besluit het om die leeus te skiet. Die kamp is net 100 meter van die eienaars se huis gewees, en het hul gery om ondersoek in te stel nadat hulle die skote gehoor het, maar hulle kon niks sien nie.

“Die bebloede diere is die volgende dag, met koppe en pote afgekap gevind,” sê me. Van der Vyver.

Sy sê dat leeus wat gewoonlik in aanhouding is, se sekuriteit verseker dat hul nie uit hul kampe kan ontsnap nie, maar daar is nie sekuriteit wat verhoed dat stropers die kampe kan binnedring nie.

“Dit beteken dat leeus in aanhouding op die oomblik baie sagte teikens is en blootgestel is,” sê me. Van der Vyver.

Leeu eienaars in die Vallei is nou in rep en roer oor die veiligheid van hul diere en daar is verneem dat talle plase reeds ekstra sekuriteitmaatreëls ingestel het om hul katte te beskerm. Almal is skugter om hul identiteite of die van hul plase bekend te maak uit vrees dat hulle volgende geteiken kan word.

HPG (Heritage Protection Group) het op hul Facebookblad gesê dat hulle vermoed die voorvalle hou verband met handel in die plaaslike moetie-mark. Kol. Otto sê egter dat dit op hierdie stadium slegs bespiegelinge is en dat daar nog geen bewyse is wat die vermoede staaf nie.

Niemand is nog in verband met die voorvalle in hegtenis geneem nie, en die ondersoek duur voort.

Die South Africa Predator Association (SAPA) met die steun van die SAPA Conservation Fund, bied ‘n beloning van R100 000 vir inligting aan, wat tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van individuele stropers en sindikate wat verantwoordelik is vir die vergiftiging van leeus is, kan lei.

Kol. Otto het ‘n beroep op die publiek gedoen om met inligting na vore te kom wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan. Persone met inligting kan kapt. Dave Retief van die Limpopo-polisie se pronvinsiale veediefstaleenheid kontak by 082 319 9460 of Marble Hall se veediefstaleenheid by 079 875 8048.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Back to top button