Opvolg: Vermeende leeustropers betrap
Drie verdagtes is vasgetrek met leeukoppe en -pote wat moontlik verbind kan word met die voorval by Stockpoort waar twee wit leeus wreed doodgemaak is.
Die drie Mosambiekse burgers is Dinsdagmiddag in Giyani in hegtenis geneem nadat inligting ontvang is dat hulle leeukoppe en leeupote probeer verkoop het.
Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, sê dat die sukses van die arrestasie te danke is aan ‘n gesamentlike poging deur lede van die provinsiale veediefstaleenheid wat deel uitmaak van die renostertaakspan en lede van SANParke.
Die verdagtes is met die koppe van twee wit leeus en agt wit leeupote in hul besit gevind en in hegtenis geneem.
“Ons ondersoek tans die moontlikheid dat hulle verbind kan word met die voorval by Stockpoort naby Lephalale waar twee wit leeus vergiftig en hulle koppe en pote verwyder is.
Lees vorige storie hier:
(Grafiese Inhoud) – Liggaamsdele dalk vir moetie gebruik
“Dit is ook moontlik dat die verdagtes verbind kan word met soortgelyke voorvalle van leeus wat vergiftig is met hul koppe en pote wat verwyder is in Rustenburg, Bela-Bela en Groblersdal, alhoewel ons nog nie die leeupote-en koppe van hierdie voorvalle gekry het nie,” sê kol. Otto.
• Die mans het gister (Donderdag) in die hof in Giyani verskyn. Die uitkoms van hul hofsaak en hul identiteite was nie bekend teen druktyd nie.
