Opvolg: Hond se geslagsdele afgesny
Kort nadat 'n hond doodgemaak en sy geslagsdele uitgesny is, is 'n dief net drie huise verder in 'n polisieman se erf betrap.
Me. Sonel du Toit het Vrydagoggend vir www.mobserver.co.za vertel dat hul Engelse Bulhond, Brakkies, doodgemaak en sy geslagsdele uitgesny is. Die hond is dood in hul bure se erf in Oosstraat gevind.
Hulle het hul kameras nagegaan en gesien dat ‘n booswig omstreeks 05:15 verby hul CCTV kameras in die erf geloop het.
Later deur die oggend het hulle verneem dat kapt. Jack Scholtz (Openbare Orde Polisiëring), net sowat vyf minute nadat dié verdagte in hul erf was ‘n man in sy erf vasgetrek het. Sy huis is net drie huise verder in Bonckerstraat geleë!
Kapt. Scholtz sê hy het die verdagte in sy erf betrap met gesteelde artikels van sy bure nog in sy besit.
Al wat hy by die verdagte gekry het, is ‘n paar artikels wat hy gesteel het uit die bure se Wendyhuis.
• Dr. Leon Connoway sê dat daar geen bloed aan die hond sigbaar was nie.
Die Du Toit’s het die hond vir hom gebring om van kant te maak. Hulle het hom nie gevra om ‘n lykskouing te doen nie, maar hy het wel sekere goed opgemerk.

Hulle het aangeneem die hond is versmoor, aangesien sy oogtande (K9-tand) deur sy tong gebyt het. Dit is die enigste bloed wat aan die dier gekry is (in sy bek).
Dr. Connoway sê die dier se tandvleise en vel het egter nie verkleur nie, wat gewoonlik ‘n aanduiding is van versmoring. Hy kon ook nie bevestig of Brakkies se nek gebreek is nie.
Daar was geen bloed waar die geslagsdeel afgesny is nie. Dr. Connoway sê dit wys dat die persoon wat die hond doodgemaak het, eers ‘n rukkie gewag het voor hy dit afgesny het, om seker te maak daar is nie bloed nie.
Almal krap egter kop oor waarom die hond se geslagsdeel afgesny is en die vermoede bestaan dat dit moontlik vir moetie afgesny is.
Me. Du Toit het ook genoem dat daar selfs ‘n bygeloof bestaan dat ‘n mens steriel kan raak as ‘n Engelse bulhond jou byt.
• Die verdagte wat op heterdaad betrap is, se naam kan nie genoem word nie, omdat hy teen druktyd nog nie in die hof verskyn het nie. ‘n Huisbraaksaak word ondersoek.
• Die hond wat se geslagsdeel afgesny is, was die tweede voorval wat dr. Connoway en sy span veeartse gesien het die afgelope paar weke.
(Nuusflits) Grafiese Inhoud: Hond vermink vir moetie
Mnr. Nico Human (Elandstraat) sê sy Shar-Pei, Jak-Jak, se geslagsdeel is egter nie deur iemand afgesny nie. Jak-Jak het deur die draad geklouter agter ‘n teef aan in die straat en het vasgehaak aan sy geslagsdeel en ‘n gedeelte van dit het losgeskeur.
Hy het die beseerde hond veearts toe gevat, waar hy steke gekry het.
Lees ander stories hier:
(Grafiese Inhoud) – Liggaamsdele dalk vir moetie gebruik
Opvolg: Vermeende leeustropers betrap
