News

VIDEO: Oord in brand verwoes

Ruby River Resort het Maandagoggend gedeeltelik afgebrand.

Chris van der Walt (28), was saam met sy familie vir die langnaweek daar vir sy pa se 60ste verjaardag.

Hy sê dat die brand net na 04:00 uitgebreek het.

Mnr. Van der Walt meen dat die brand in die kombuisgedeelte ontstaan het.

Brandende gras wat deur die wind van die dakke af gewaai is, het die vuur na die restaurant en van die chalets laat versprei.

Besoekers aan Ruby River Resort het gehelp om soveel as moontlik van die meubels en ander waardevolle items uit te dra, voordat dit deur die vlamme verswelg is.

“Ons het almal ingespring en gehelp. Van ons het in die klein swembadjie gespring en die stoep met water natgegooi om die skade te verminder,” het mnr. Van der Walt gesê.

Die Groblersdal brandweer het vasgeval toe hul waterlorrie leeggetap is.

Hulle moes jaag om nog water te gaan kry. Intussen het die Middelburg en Marble Hall brandweer hulp verleen.

Julie Grunewald, kantoorbestuurder by die oord, sê dat die hoofhuis, wat die kombuis, ‘n chalet en konferensiekamer bevat heeltemal afgebrand het.

Nog twee chalets, die restaurant en die kroeg het ook in die slag gebly.

“Ons harte is seer maar ek glo vas ‘Out of these ashes something beautiful will grow’. Ons is in die as maar ons is nie platgeslaan nie.”

Sy sê dat die personeel, gaste en boere uit die omgewing soos een man saamgewerk het.

Sien Video hier:

“Ons het eers daai middag ons pajamas gaan uittrek. Dit was wonderlik om te sien hoe almal kom help het. Die boere in die omgewing het almal met ‘n waterkar hier opgedaag.”

Niemand het in die brand seergekry nie en die gaste het geen verlies aan besittings gehad nie.

Daar is op hede nog nie ‘n bepaling van hoeveel rand die skade beloop nie “maar ons praat nie hier van ses sent nie” het mev. Grunewald gesê.

Volgens A/O Stanley Magaela van die Groblersdal polisie ondersoek hulle tans ‘n saak van brandstigting.

•Ruby River Resort is steeds oop vir sake. Die oorblywende chalets is almal selfsorgeenhede.

Die funksiesaal, met ‘n pragtige uitsig, gaan intussen in ‘n kuierarea verander word. Almal word uitgenooi om hulle te kom ondersteun.

• Die eienaar van die oord, Henk Swart, se grasdak huis wat nie ver van die oord af is nie, het verlede jaar afgebrand.

Jana Boshoff

Award-winning community news journalist with over a decade's newsroom experience. Passionate about hard-hitting news stories!
 
Back to top button