
“Ek hoop jy het ’n k@kdag,” sê die vrou.
En toe is dit nie so dag nie, maar sommer so week.
Griep jy sien!
Maar dit is nie die griep wat jou siek maak nie.
Dis mense.
Na dié oproep is daar nog een. Van die vrou buite beheer. Sy bel en jy vra mooi: “Dit het mos niks met my te doen nie”. Maar sy luister nie. Sy gaan met ’n stem voort soos ’n operasanger wat diaree het. Hoog, laag, hoog, hoog, hoër…
En al vra jy rustig en mooi, die tirade duur voort.
Later sit jy maar die selfoon eenkant neer sodat sy met haarself kan praat.
Maar sy bel joernaliste, familie.
En later toe sy weer bel vra jy: “Wat nou weer? Antwoord sy ewe bedees: “Skuus, verkeerde nommer”.
Simpatie meneer, simpatie, jy wat ’n hele nag saam met so auntie moet deurbring.
En dan was daar die een wat ’n joernalis se kamera gryp en hom teen ’n muur stukkend gooi. Flenters! In duisend stukkies.
Later vat sy die gewese kamera en gooi hom op ’n huis se dak. Buite beheer.
(Ter verdediging, sy het volle verantwoordelikheid aanvaar en die kamera vervang).
En so sien jy in hierdie k@kweek hoe die mensdom verander.
Hoe mense in bloeddorstige genot nie genoeg kan kry van ’n kermende Oscar Pistorius nie. Hoe elke slukkie bloed wat Gerrie Nel uittrek, met staande applous toegejuig word.
Hoe die beeld van ’n beeldskone Reeva Steenkamp in jou geestesoog verander na ’n bebloede blonde massa hare. Want sien, mense kan nie vinnig genoeg Reeva se bebloede liggaam van een rekenaar na ’n ander rekenaar aanstuur nie.
En wanneer hulle klaar is, vryf hulle hande, sit agteroor en spog met genoegdoening: “Het jy gesien hoe het Reeva gelyk nadat Oscar haar geskiet het?”
En jy kyk National Geographic en jy sien in die diereryk hoedat ’n olifanttrop met liefde ’n klein olifantjie red wat in modder vasgeval het, jy sien hoe ’n trop buffels saamstaan om ’n baba buffel te red van ’n leeu-aanval.
Jy sien nie dat diere babadiere verkrag, ander diere se kele afsny, met een piksteelhou doodslaan nie.
En jy wonder, in hierdie week.
Is die mens dalk die wreedste dier op aarde?