News

Skrywer uitgeskop

Sy was op 'n tyd 'n bekroonde skrywer maar het na haar verkragting opgegee in die lewe.

Die oomblik toe sy egter glo dat sy weer die stukke van haar lewe bymekaar kan kry, toe tuimel haar kaartehuis weer ineen toe sy by Koppiehuis uit is oor sy nie kans gesien het om badkamers skoon te maak nie.

Bekroonde digter en kunstenaar Annatjie Cronjé voel of die mat weer onder haar voete uitgeruk is.

Sy het agt maande gelede na Middelburg gekom om in die rustigheid van die Platteland weer méns te word.

Anna Cronjé (die naam waaronder sy geskryf het) was vir baie jare bo aan die golf van sukses.

Sy het ‘n goeie werk gehad as bankbestuurder, en die boeke het onder haar bekwame pen uitgevlieg.

Daar was “Uit die Hart van ‘n Vrou,”, “Versoening”, “Die Kreef en die Leeu” en ook “Die Blou Viool” wat by die Aardklop Kunstefees opgevoer is.

Haar lewe het tot stilstand gekom nadat sy wreed deur twee mans verkrag en gesodomiseer is. Hulle het haar ook met messe gesny.

Die fisiese wonde het gou genees, maar geestelik was sy geknak. Sy het probeer opstaan met die boek “Stukkende Lewe” en “Bostik vir My Hart”, maar dit was net vir ‘n rukkie pleisters vir haar gemoed.

Sy het selfs geskilder en uitstallings gehou, maar die depressie het haar grond toe getrek.

Kort voor lank het sy haar werk verloor en ‘n kluisenaarsbestaan begin voer waar sy daagliks net in haar pajamas op ‘n bank rondgelê het.

Na selfmoordpogings en jare van wroeging, het sy nie meer ‘n heenkome gehad nie.

“Jy word nie betaal as jy vir ‘n paar jaar nie ‘n boek skryf vir jou uitgewer nie!” sê sy terwyl sy aan ‘n sigaret teug.

Familie van haar het in Middelburg gebly en sy het agt maande gelede besluit om na dié dorp te kom om weer voor te begin.

Me. Cronjé het letterlik van besigheid tot besigheid geloop om werk te soek en het ‘n geleentheid gekry by die Park kafee.

Goedkoop blyplek was skaars en sy was gelukkig toe sy ‘n plekkie kry by Koppiestraat. “Dit is so mooi daar.

Ek het gedink as ek Saterdae van die werk af kom, kan ek Saterdagaande en Sondae aan my boek werk.”

Sy was egter erg ontnugter. Volgens haar moet mense wat in die week werk, naweke toilette en vloere skrop.

“Toe sê hulle ek moet uit! Mense moet weet wat daar aangaan.

Hulle gebruik die f-woord vir alles: ‘jy moet f..en die vergaderings bywoon. Jy moet f..en die kerkdiens bywoon’ ja, hulle gebruik dit in dieselfde sin!

As jy ‘n glasie wyn saam met ‘n braai drink, dan moet jy blaas!

Jy mag net drink as jy saam met die bestuur gaan drink.

Ek het self gesien hoe smyt hulle onlangs half twee mense uit!

“Ek is nie beter as ander nie, maar moet my nie vloek en dreig nie. Almal by Koppiestraat is bang! Vir wat moet hulle so leef.

Hulle en ook ek het soontoe gegaan om ons menswaardigheid terug te kry en dan word jy so behandel!”

Me. Cronjé sê me. Lizanne Scholtz (bestuurder) het ook geweier om haar deposito terug te gee en sy wag nog steeds vir ‘n kontrak.

“Verstaan my mooi. Ek het nie ‘n probleem met Koppiestraat of die projek nie. Ek het ‘n probleem met hoe die bestuur die mense behandel.”

Volgens haar skop hulle mense uit oor die grootste onbenullighede “sodat hulle die deposito’s kan hou!”

•Me. Scholtz het gesê dat al “dreigemente” (waarna me. Cronjé verwys), die feit is dat mense by die reëls moet hou. “Dit is nie ‘n hotel nie.

As jy ‘n hotel kan bekostig, dan kan jy mos daar gaan bly. Dit vat ‘n uur om ‘n badkamer skoon te maak en sy moes dalk net help om aartappels te skil!”

Me. Scholtz het ontken dat mense gevloek word.

Volgens haar het hulle vir me. Cronjé gesê dat as sy nie by die reëls hou nie, dat sy kan gaan. “Toe het sy sélf gesê sy sal die volgende dag uit wees. Ons het haar nie uitgegooi nie.”

Me. Scholtz het genoem dat hulle selfs me. Cronjé tegemoet gekom het en vir haar ‘n groter Wendy huis beskikbaar gestel het.

“Jy moes sien hoe het die plek gelyk toe ons moes gaan skoonmaak.”

Sy het gemeld dat daar duidelik op die kontrak staan dat deposito’s slegs teruggegee word as die persoon 30 dae kennis gee.

Me. Scholtz kon nie ‘n kontrak dadelik aan me. Cronjé verskaf nie omdat hul drukker nie ink het nie. “Ons het nie R400 om ink vir die drukker te gaan koop nie en ons het dit vir Annatjie gesê.”

daleen@mobserver.co.za

 
Back to top button