’n Pa onthou…
“Ek weet hy’s nou weer tuis,” sê Louis Broodryk Vrydag in ’n hartroerende onderhoud oor die moord van sy “grootman” seun, Werner, ’n oudleerling van HTS Middelburg.
Anders as Werner se hond Bushie, wat aande om lê en tjank oor sy baas, het Louis se trane opgedroog, hoewel hy nog wakker word met ’n nat hemp en kussing.
Werner is die nag van 23 November 2012 vier maal deur drie inbrekers in sy Lelanie Park meenthuis in Bronkhorstspruit geskiet.
Hy het drie maande voor sy moord soontoe getrek omdat hy onveilig gevoel het op die plot wat hy gedeel het met ’n werkskollega.
Werner se laaste brief, in sy eie handskrif, waar hy die beheerliggaam van die kompleks vra om die toegangshek se hekomotor reg te maak, is deur die polisie in die moordhuis gevind, saam met sy Bybel waarin hy op 11 Junie 2011 geskryf het: “Dankie Here dat U my verlos het van my verlede”.
Die hek is die dag toe Werner se liggaam voor sy voordeur ontdek is, herstel.
Louis sê die dag toe Lazarus Tau die eerste maal vir sy seun se moord in die hof verskyn het, wou hy hom konfronteer, maar het daarteen besluit.
’n Nabye familievriend het Tau egter gestorm en in die beskuldigdebank deur sy gesig geklap.
“Ek wou, nee wil, hom dood hê,” sê Louis.
“’n Maatskaplike werker het ter versagting getuig dat Tau 27-jaar oud is, ’n kind van vyf het en ’n tweede kans moet kry,” sê Louis bitter en herhaal sy getuienis ter verswaring “dat Werner 26-jaar oud was, geen kans op trou en kinders het nie, en nie ’n tweede kans gebied is deur Tau nie”.
Louis het gevra dat hy hom in die oë kyk, maar ’n lafhartige Tau kon nie.
Louis praat en praat en praat en hy vat ’n sluk koue koffie voordat hy vertel van Werner se laaste minute.
Die booswigte het toegang deur sy sitkamervenster gekry nadat die diefwering oopgebreek is.
Werner is in sy bed verras en hy het die rewolwer wat op hom gemik was weggeklap – die koeëlgat in die dak en patroondoppie in die toilet het dit bevestig.
Hy het met bomenslike krag teen sy aanvallers baklei en ’n tweede skoot is afgevuur wat hom in die linkervoorarm getref het – bloedspatsels teen sy kamermure en plafon het dit bevestig.
Werner se velaf kneukels en knieë en die bytmerke aan sy duim was die stille getuienis van ’n man wat wou leef.
Hy het met al sy krag voorhuis toe gestoei, waar hy met ’n boutsnyer oor die kop geslaan is – die kneuswond aan sy voorkop het dit bevestig.
Werner het geval, waarna een van die mans met sy voete aan weerskante van hom bo hom gaan staan, en drie skote van agter in sy bolyf afgevuur het.
Louis is die volgende oggend, na ’n onverklaarbare nag sonder slaap, uit die Kaap deur sy ander seun, Retief, gebel.
“Pa, Werner is geskiet,” is al wat Louis gehoor het voordat die wêreld vir ’n minuut om hom verduister het.
“Is hy dood?” wou Louis weet, maar Retief, wat ure later vir die Pukke se sewesspan uitgedraf het, het nie die hart gehad om vir sy pa te sê nie.
Louis het Bronkhorstspruit toe gejaag “om tog net vir Boeta koebaai te sê!”.
Die geel en blou polisielint om Werner se meenthuis het geskreeu dis te laat – die planne vir die braai na die wedstryd die vorige dag, die laaste gesprek tussen pa en seun.
“Retief se span het met swart bandjies om die arms gespeel en daar’s afgekondig dat die wedstryd opgedra word aan Werner wat die oggend oorlede is,” sê Louis met gebalde vuiste terwyl hy fluistersd vra “hoekom jok, sê hy’s vermoor, sê hy’s geskiet en het in ’n plas van sy eie en die bloed van ’n aanvaller beswyk!”.
Werner en Louis sou Retief se wedstryd saam op TV kyk, maar in plaas daarvan moes Louis met sy dooie seun se besittings deur ry eMalahleni toe, terwyl sy lewende seun sy hart vir sy broer uitgespeel het. Werner is ses weke na sy ouma se dood vermoor.
Die Maandag van sy begrafnis is hul jarelange huishulp skielik dood, Louis sê van skok, want sien almal was lief vir Werner – die meer as 2000 mense by sy begrafnis het dit bevestig.
Die dag wat Tau gevonnis sou word is die saak uitgestel tot voorverlede Woensdag “maar wat ’n heuglike dag sou dit nie wees nie, Retief het sy meestersgraad in sportwetenskappe ontvang en Werner se neef Leon, wie Louis onder sy vlerk geneem het na sy eie pa se afsterwe, het ’n babadogter ryker geword.”
•Louis bedank graag die Middelburg, eMalahleni en Bronkhorstspruit gemeenskappe vir hul bemoedigende boodskappe en ondersteuning.