News

My Beurt

“Ma moet ophou om sulke vreemde goed te sê en asseblief nie voor my maats nie, hulle sal dink Ma praat ’n ander taal!”

Dit nou uit die mond van my jongste!

In ons dae is idiomatiese vergelykings só in ons koppe ingedril, dat ’n mens dit jou spreektaal begin maak het en glip dit sowaar nog soms uit as ek met iemand praat (tot groot verleentheid van die kinders, want hulle weet gewoonlik nie kat van saffraan wat ma sê nie!).

Ek kry sommer lag as ek ’n paar voorvalle onthou waar die kinders vinger teen die kop getik het (om natuurlik te wys ma is bietjie kêns) as ek iets kwyt geraak het.

Die jongste het iets aangevang (wat ma natuurlik tot vandag nie vir pa kan sê nie!) en ’n mens moet tog maar bietjie streng optree en klink. Die gesprek het min of meer as volg verloop.

“Ek gaan nie jou kastaiings uit die vuur krap nie! Jy moet meer verantwoordelik wees!”

Dogter: “Huh, waarvan práát ma? Ek weet net van die kerk se pap en kaiings! En dit het niks uit te waai met wat nou aan die gang is nie!“ (Sy het seker bedoel dit het niks ‘met die prys van eiers uit te waai nie.’).

Sit nou die dag in ’n restaurant en kyk hoe ’n paar mense uitgaan om te rook. “Ek het ’n kleintjie dood daaraan dat mense rook!”

Die groot oë van die kinders het gemaak dat ek vinnig sagter praat.

Om die kinders bietjie meer openlik oor die Afrikaanse literatuur in te lig, besluit ons toe om dit ’n tema van bespreking een aand in die huis te maak. Wat natuurlik almal laat skreeu het van die lag, want gewoonlik vat dit ’n rukkie om die ‘kloutjie by die oor te kry’ oor waarom sekere goed se beskrywings dan juis só genoem word en almal van ons het “prentjiebreine” (soos die kinders dit noem).

Die kinders verstaan darem “dit reën katte en honde” en het al iewers gehoor dat “jakkals trou met wolf se vrou” iets daarmee te doen het dat die son skyn wanneer dit reën.

Hoe kan jy “ou koeie uit die sloot grawe” as jy iets rep van ’n vorige argument?

Steek jy te gou jou vinger in die klas op of lewer kommentaar is jy “voor op die wa”, maar wil ’n knaap nie gou genoeg sy meisie verdedig nie, het hy kwansuis “nie murg in sy pype nie!” Is dieselfde meisie skielik nie geïnteresseerd nie, “gee sy hom die koue skouer”!

Oor die liefde is daar veel te sê: “Hy flikvlooi by die nooi, die pad na ’n man se hart loop deur sy maag” en natuurlik my gunsteling (as die vrou die broek in die huis dra), “die pantoffelregering”.

Maar o wee, daar is ’n paar uitdrukkings wat ’n mens maar laat wonder wáár die oumense daaraan gekom het: “die aap uit die mou laat” en “ledigheid is die duiwel se oorkussing!”

En wie sou kon raai dat “Arende vang nie vlieë nie” iemand is wat hom nie ophou met onbenullighede nie!

Die belangrikste wat die kinders onthou as hulle sakgeld kry, is natuurlik “geld wat stom is maak reg wat krom is” (hier het niemand ’n verduideliking nodig gehad nie.

Ek moet sê, ek voel soms soos “’n Vreemdeling in Jerusalem” as die kinders hul tienertaal praat, (maar laat ons nou maar nie dáár gaan krap nie!).

Nou ja, van die “os op die jas” (daar begin ma sowaar alweer!), Afrikaans is ’n lékker taal! Daardie woorde wat soos ’n tolbos oor jou tong kom rol en jou so warm om die hart laat word.

En nou wil ek ter afsluiting nog net één stuiwer in die aambeurs gooi: ja dit is só: Afrikaans en alles wat daarmee gepaard gaan is beslis “‘n perd van ’n ander kleur!”

 
Back to top button