Vrou rondgestamp in huis
'n Middeljarige vrou moes magteloos toekyk hoe rowers 'n deur oopskop en haar oorval.
Me. Toy Korff (49) sê sy het nie tyd gehad om vir hulp te roep oor die radio of om weg te hardloop nie.
“Alles het net te vinnig gebeur.”
Sy het Vrydagmiddag omstreeks 12:20 die honde hoor blaf. Hulle bly agter in die erf van mnr. en me. Pieter en Suzette van der Linde en sy het ingestap in die huis om deur die venster te kyk waarom die honde so te kere gaan.
Die oomblik toe sy by die venster kom in die sitkamer om te kyk wat aangaan, het alles tegelyk gebeur.
Sy onthou dat sy gesien het dat drie mans reeds die veiligheidshek afgebreek het.
Me. Korff het omgespring en gehardloop om die radiogroep te laat weet dat daar ingebreek word.
Daar was egter nie tyd nie, want die drie booswigte het reeds die voordeur oopgeskop en op haar toegesak.
Voordat sy die knoppie kon druk, het hulle die radio uit haar hande geruk en ook haar selfoon by haar afgevat.
“Een van die rowers het ‘n koevoet in sy hand gehad. Dit is seker waarmee hulle die veiligheidsdeur oopgebreek het,” het sy dié week gesê.
Die rowers het ‘n duvet oor haar kop gegooi en haar eers op die bank neergesmyt.
Hierna het hulle haar weer opgepluk en gestamp na die hoofslaapkamer. Een het vir haar geskreeu: “jou f..k..n slegte wit bl..ks..m” en haar gedwing om op die grond te lê.
Hulle het aanmekaar gevra waar die kluis is en sy het probeer verduidelik dat sy nie in die huis bly nie en nie weet waar die kluis is nie.”
Omdat sy hulle nie kon help nie, het hulle self die kaste se deure begin ooppluk en gegryp wat hulle in die hande kan kry.
Binne slegs tien minute het die rowers by die kamer uitgestorm en me. Korff toegesluit.
Me. Korff het by die venster gaan staan en aanmekaar deur die diefwering om hulp geskreeu.
Omstreeks 13:00 het haar man, Peet, by die huis gekom. Hy het gewonder waarom die skuifhek nie wil oopmaak nie. ‘n Man het langs sy venster kom staan en gevra of hy kan help, want hy hoor ‘n vrou skreeu.
Mnr. Korff het uit sy voertuig gespring en beide die mans het gesien dat die skuifhek van die spoor afgelig is.
By die huis het hulle gesien dat die deure oopgebreek is en na binne gehardloop. Die onbekende man het die kamerdeur oopgeskop, waar hulle die geskokte me. Korff binne gevind het.
• Mnr. Van der Linde sê hulle skat die skade van die gesteelde artikels en aan die deur op ‘n totaal van sowat R50 000.
Hulle het sy hele kluis, waarin sowat R5 000 kontant en ander waardevolle artikels en juwele soos ‘n familiering (wat sy vrou uit vrees dat hulle dit sou steel, nie wou dra nie). Die booswigte is ook weg met sy skootrekenaar en ‘n duur horlosie.
• Buiten skok en lyfseer weens die manier wat die mans haar rondgestamp het, het me. Korff nie ander beserings opgedoen nie.
• Die familie wil graag kontak maak met die man wat me. Korff te hulp gesnel en die deur oopgeskop het. Hy kan mnr. Van der Linde bel by 078 456 9456.