Hoof hou hom doof
Pleite van bibberende kinders met loopmae word summier by Platorand Skool in Belfast geïgnoreer, en ouers raak nou warm onder die kraag vir die beheerliggaam en hoof wat die wang op die vervalle koshuise draai.
Die seunskoshuis het amper 200 inwoners terwyl daar 40 meisies in die dogterskoshuis gehuisves word.
Beide is al weke sonder water en die kinders bad in emmers koue water in die bibberweer waarvoor die hoogliggende dorp alom bekend is.
‘n Bekommerde ouer het die koerant die week genader omdat vergaderings met die hoof geen resultate lewer nie.
Die koerant is in besit van twee geskrewe klagtes uit die klagteboek wat in beide koshuise beskikbaar is vir die voogde om voorvalle en klagtes neer te skryf.
‘n Ma sê sy was geskok oor die voogde, almal onderwysers by die skool, wat al in die boeke gevra het “wie lees die klagtes?” uit frustrasie omdat daar niks aan die probleme gedoen word nie.
Op ‘n ander klagte in die boek skryf ‘n onderwyser “die vensters is steeds stukkend, ons dogters is koud” wat afgesluit is met vyf uitroeptekens.
Naas die water wat in Belfast opgedroog het, is verskeie koshuisruite al maande lank gebreek en kla die kinders van koudkry in die nag.
Nog ‘n algemene klag wat gereeld geopper word is die swak kos wat die kinders op strepe siekmaak.
Een van die klagteboek inskrywings lui: “Ons het ‘n siekekamer nodig!” nadat drie meisies in die koshuis loopmae gehad het.
“Jou maag sal ook draai as jy sien waaraan die kinders blootgestel word,” was ‘n bekommerde ma se reaksie op die boekinskrywings.
Sy het al telkemale die hoof gekonfronteer maar hy hou vol die koshuise is piekfyn.
Die hoof, mnr. Everence Matshika, het Donderdag gesê dat die watertoevoer die afgelope naweek deur die munisipaliteit reggemaak is en die kinders nou weer warm water het.
Hy sê daar is geen gebreekte ruite by die koshuise nie en dat die ouer wat kla “oordryf”.
Mnr. Matshika sê die kos is op standaard en dat hy geen klagtes gekry het nie “en vermoed die ouer wat kla is kwaadwillig”.
In 2008 was die skool in die kollig van die departement weens finansiële ongerymdhede en die skool was ook in die kollig weens ‘n rassevoorval waarin ‘n groep swart seuns ‘n kompressor in ‘n wit leerling se anus opgedruk en aangeskakel het.
Die kind is vir ernstige inwendige beserings behandel en die skuldiges is nooit vervolg nie, nadat die voorval afgemaak is as kattekwaad.
Dwelms is ook ‘n reuse probleem by die skool waar talle leerlinge met spesiale akademiese behoeftes onderrig word.
‘n Ouer sê dat hulle bewus is van watter leerling dagga op die skoolterrein verkoop.
gerhard@mobserver.co.za