News

Waar is Cas begrawe?

Die eerste Vadersdag sonder hul pa, wou 'n gesin blomme op sy graf gaan sit, maar 'n skok het op hulle gewag: 'n ander persoon se grafsteen het hulle begroet!

Me. Deidré Erasmus sê “Vadersdag was ‘n disaster” vir haar seuns.

Haar eksman, mnr. Cas van Wyk, is in Desember verlede jaar oorlede en hulle wou op Vadersdag weer blomme op sy graf gaan sit.

Toe hulle Sondag daar kom, was daar ‘n grafsteen op van mnr. Jacques Grobler.

Die verwarring het klaarblylik tydens die begrafnis ontstaan.

Me. Erasmus sê voor die begrafnis het die munisipaliteit vir hulle grafnommer 90506 uitgereik.

Hulle het nooit weer die dokumente nagegaan nie, want die dag van die begrafnis het hulle ‘n foto by die graf geneem en het die plaatjie op die graf “90505” aangedui.

Me. Erasmus sê sy het navraag gedoen by die begrafnisdienste en hulle het bevestig dat hulle ‘n permit het om mnr. Grobler se steen by dié graf op te sit.

Sy het wéér navraag gedoen by die munisipaliteit.

“Daar was blykbaar op daardie dag verskeie begrafnisse en dit klink vir my of dit werk op ‘n first come first serve opsie. Die mense wat vir die munisipaliteit werk, maak die grafte toe en kyk nie dat die regte persone in die regte grafte geplaas word nie! Ek het ‘n ander foto waar jy duidelik kan sien dat daar op een graf drie grafnommerbordjies ingesteek is. Soos die mense begrawe word, plaas hulle dan die bordjies in en sien nie toe dat allokasies reg is nie!”

Me. Erasmus sê volgens die hoek wat sy die foto’s geneem het, kan jy duidelik die graf langsaan sien, die kar in die agtergrond en waar ‘n ene Schmidt se graf is. “Sou Cas enigsins in grafnommer 90506 begrawe gewees het, sou dit nie ooreenstem met my foto nie!”

Sy en hul kinders is omgekrap oor die gebeure. “Die vraag is: hoeveel ander mense word so verneuk? Is ek bereid om kostes aan te gaan vir ‘n grafsteen wat ek nie eers berusting by kan vind in die wete dat dit my eksman en beste vriend of my kinders se pa is nie? Die trauma wat die kinders nou ervaar oor die onsekerheid watter graf hul pa s’n is.”

Me. Erasmus sê sy verwag dat grafnommer 90505 toegeken word “en dat al die betrokke partye ‘n besoek doen aan die graf en bevestig wat ek sien. Dat mnr Grobler (may his soul rest in peace) geskuif word – dan praat ek nie eens van sy familie se trauma nie!”

Sy sê dat indien die grafte oopgegrawe moet word om bevestiging te kry deur na die kiste te kyk (sy het foto’s van die kis), sy van die stadsraad verwag om die kostes te dra.

• Me. Dalene Lambrechts (Parkehoof) se antwoord verskyn elders.

Back to top button