News

My Beurt

“Mens moet elke dag iets doen waarvoor jy skrikkerig is,” lui die bekende motiveringsgesegde.

“En juis om hierdie rede probeer ek elke aand kos te maak,” is my onmiddellike teenantwoord op bogenoemde motiveringsgesegde.

Maar tog is dit soms goed om iets aan te pak – iets waarin jy nie werklik die wêreld aan die brand speel nie, of stilbly as die gesprek na dié spesifieke onderwerp se rigting neig.

Daarom gaan ek vir die volgende paar weke ’n program volg wat my uitdaag. Nie net vir persoonlike verryking nie, maar ook om vir lesers (wat met ’n soortgelyke probleem sukkel en die program wil volg) te help. Sal weekliks oor my vordering (of dan die gebrek daaraan) terugrapporteer.

Na ek lank selfondersoek gedoen het, én die raad van ’n kundige ingeroep het, is die “Dinge-waarin-Johann-Gresse-suck-lys” tot die volgende twee temas verminder:

• Maagspiere:

Volgens die Men’s Health-tydskrif – daai wonderlike bron van nuttelose inligting – is maagspiere die nommer een ding waarna meisies oplet as hulle na jou kyk. Nou hoe hulle dit onder jou hemp sien – behalwe as hulle soos Superman X-straalvisie het, óf jy rerig ’n trekkerband van ’n maag het – is bo my begrip. Dit egter daar gelaat.

Die hoofprobleem wat ek met maagspiere het, is dat ek eet wat ek wil, wanneer ek wil en hoeveel ek wil. Dit was dalk nie ’n probleem in matriek nie, maar noudat ek aftree-ouderdom se rigting toe staan, kom ek agter dat my metabolisme ook lekker die bal kan laat val. Boonop is oefeninge soos planking en daardie ingewikkelde bewegings met die groot opblaasbal in die gimnasium volksvreemd vir my.

Gelukkig kan ek my maag met selfvertroue intrek.

Maar ter wille vir volk en vaderland (en sodat meisies eerste my platter maag voor my persoonlikheid kan waardeer) kan ek deur ’n maagspier-program worstel.

• ’n Ander aspek waaraan ek kan skaaf, is my dansvermoë. Om nie doekies om te draai nie, ek het die ritme van ’n oorgewig olifant (wat nie maagspiere het nie) op te klein rolskaatse wat sy tone knyp.

Was by ’n paar matriekafskeide en elke keer moes die metgesel maar op die kantlyn (nou nie Sideline nie) in haar ontwerpersrok staan – of erger – met ’n ander ou dans. Goeiste, ek aanvaar selfs net troue-uitnodigings as ek nie hoef te dans nie, behalwe as die Madiba Shuffle of Helen Zille se campaign-danse toegelaat word.

Het egter agtergekom dat dans ’n belangrike rol in Middelburg speel. Jy kan maar oor die ses voet wees, oor ’n goeie algemene kennis beskik en die klein dinge in die lewe waardeer, maar as jy nie kan dans nie, kry jy nie toegang tot Burger Hut nie.

• Reg dis tussen maagspiere en dans.

Maagspiere sal harde werk vereis, en dans ’n wonderwerk.

Lees Johann se Opvolg berig.

Johann Gresse

Journalist at Middelburg Observer
 
Back to top button