My Beurt: Johann Gresse
Reg, het myself mos uitgedaag om met óf ’n platter maag óf die dansvermoë van ’n John Travolta (of eintlik enige iemand wat al met selfvertroue by ’n skoolsokkie rondgehop het) binne slegs ’n paar weke te spog.

Maar in ’n oomblik van helderheid (of dan besluiteloosheid) het ek beide opsies gekies: plat maag én danslesse.
Hier volg my vorderingsverslag na die eerste week van stres, senuwees en lesse.
• Plat maag: Waar ek hier sit en tik, is ek juis besig om ’n hele paar pannekoeke op my eie te verslind. Weet dit is ietwat teenproduktief ten opsigte van die Legoblokkie-maag, maar dis lekker, en elke Maandagoggend kom die pannekoektannie verby ons kantoor gestap.
Wat die oefening betref, gaan dit egter goed. Probeer om meer gereeld die gimnasium te besoek (lees so drie keer ’n week) en het selfs beeldmateriaal van iets soos 87 verskillende maagoefeninge bekom. Maak egter steeds ’n paar beginnersfoute…
Tydens een Virgin Active-besoek, besluit ek om sit-ups met gewigte aan te pak – al die groot ooms en sterk tannies doen dit dan immers. Maar soms moet mens nie jou vermoë in die eerste week van die program oorskat nie, al is jou selfbeeld hóé goed.
Met selfvertroue gryp ek ’n plaatgewig, loop met hom (nogal in een hand!) na die apparaat, haak my voete by die voethaakding in, hou die gewig bo-op my bors vas…en daar lê ek.
Maak nie saak wat ek doen nie, ek kom nie bo nie. Onthou ek het sulke vreemde roggelgeluide gemaak, terwyl ooggetuies (wie my natuurlik glad nie gehelp het nie) laggend vertel het dat ek net so rooi van gelaat soos Dawid in die Bybel geword het.
Na ’n lang gesukkel kom ek uiteindelik orent… en dit was die einde van my maagoefeninge vir die aand.
Maar verder vorder ek heel fiks en fluks. En as ek werklik my verbeelding besonders goed inspan, sien ek moontlik ’n kwart van ’n enkele blokkie.
• Danslesse: Hier het ek die hulp van ’n kenner ingeroep. Vianca Pretorius het goedhartig aangebied om my te leer. Sy is ’n talentvolle danser en choreograaf, maar ek dink sy het haar hande vol gehad (letterlik) met my by Inspire Fitness (daar by Hoërskool Middelburg) se saal.
Eerstens was ek laat, en tweedens sukkel ek om die bewegings te onthou. Is heel goed as sy dit stadig aan my verduidelik en deurwerk, maar as die musiek begin speel is sy soos ’n luukse Mercedes Benz en ek ’n ou Cortina-bakkie.
Is heel vaardig (vir iemand wat glad nie kan dans nie) as ek net my arms of net my voete moet gebruik, maar sodra ek dié ledemate moet kombineer, is dit ’n perd van ’n ander kleur.
Maar Vianca is geduldig, die mense by die gimnasium is vriendelik en ek wil dit graag regkry.
Hou gerus hierdie spasie dop…