News

My Beurt: Johann Gresse

In die tweede week van my soeke na die legendariese mites van plat mae en dansvermoëns, het ek besluit om die roetine effens te verander - mens kan mos nie heeltyd dieselfde ding doen nie, of hoe?

Was nie baie lus vir die gimnasium nie en het eerder gaan muurbal speel (baie rondgehardloop, want ek speel nie slim nie) en mense help trek (gróót fout).

Het wel tydens die trektog my maagspiere ietwat ingespan.

Moes ’n wasmasjien na die eerste verdieping van die meenthuiskompleks help dra.

Het die masjien met selfvertroue aan die onderkant opgetel en eerste die verdagte steil trappe bestyg.

Hoe hoër ons vorder, hoe laer moes ek buig om die dêm ding vas te hou (onthou dat ek lank en lomp is).

Naderhand loop ek omtrent soos ’n bejaarde krap, wie se skulp besig is om af te val, by die trappe op en kla luidkeels.

Het selfs byna die ding laat val – as dit nie was vir die verstommende maagspiervordering van die afgelope week wat my lyf toelaat om akrobatiese maneuvers uit te haal nie.

Ons moes ook die sitkamerbank met kabels na die balkon ophys.

Die bank het duidelik sy ab-dag ’n hele paar keer misgeloop en was te groot om deur die voordeur te pas.

As die lankste onder die hande-arbeiders, moes ek en die arme opsigter-oom die bank oplig en bo ons koppe hou terwyl die ander dit ophys.

Terwyl ek daar staan, met letterlik die wêreld se probleme op my skouers, het ek gedink dat dit baie makliker is om planking by Virgin Active te doen.

Sal dus die week weer die gimnasium besoek…en waarskynlik televisie kyk.

• Op die dansfront het Vianca Pretorius my begenadig deur ’n dansroetine te kies wat stadiger is. Ek is haar ewig dankbaar.

Sukkel egter steeds my as af om my voete en my arms gelyktydig rond te swaai – mens sou dink dat na 27 jaar se stapervaring moet ek al vaardig met dié bewegings wees, maar helaas is dit nie die geval nie.

Vianca lyk steeds soos ’n sportklas Mercedes daar by Inspire Fitness, terwyl ek darem nou soos ’n Bantambakkie begin lyk – dis nou as ek die bewegings onthou.

Enigste ding wat my effens bekommer, is dat sy praat van gevorderde maneuvers waar ek haar in die lug moet gooi en weer vang. As ek nou ’n Whatsapp emoticon by hierdie sin kon voeg, sou dit daardie een wees met die paniekbevange uitdrukking.

Want as ek gereeld elementêre dansdinge vergeet – soos waar om my voet neer te sit – gaan ek onthou om haar weer te vang na ek haar die hemele ingegooi het?

Sy het egter volle vertroue in my. Of so sê sy…

Dit bly steeds ’n lekker uitdaging!

Johann Gresse

Journalist at Middelburg Observer
 
Back to top button