
(Opinion)
Ons het al vergeet dat net nou die dag was een bevolkingsgroep so superieur teenoor ‘n ander dat mense aangespreek moes word as “Baas”.
Dit was groot sonde om nie te sê Baas nie. Om die waarheid te sê is daar dikwels klappe uitgedeel, “as daar nie respek betoon is nie”.
Nou het ons weer Base.
Baie Base.
Daar is soveel Base dat daar sommer ‘n Baasdag is.
Dankie Baas!
So erg is dit dat daar tot ten hemele uitgeroep word na die “Grootbaas”, of die “Oubaas”.
Maar wie is Baas?
Wanneer jy by iemand stop maak hy die sondak, die bagasiebak en die enjinkap oop met die druk van ‘n knoppie. Hy staan daar en sy houding sê: “Ek is Baas.”
Wanneer kinders agter die stuur van so kar inklim is hulle baas en ry asof hulle Baas is.
Jy het posisie.
Jy het geld.
Jy bly daar, julle weet mos waar?
Ma het altyd gesê: “My kind, daai man het sewe jaar geleer om ‘n dokter te wees, jy moet hom dokter noem”. Of: “My kind, daai man het sewe jaar geleer om predikant te wees, jy moet hom dominee noem”.
En so was daar respek. Respek vir mense wat respek verdien, maar nooit base nie.
Respek vir mense wat respek afdwing.
Respek vir gesag.
Sal nooit Ma se heilige vrees vir ‘n verkeersman, ‘n polisieman en ‘n skoolhoof vergeet nie.
Baas?
Nee, ‘n hond het ‘n baas.