News

Terug kerk toe Sondag

Die Lighuis Gemeente vorm Sondag deel van 30 000 kerke en sowat 3 miljoen mense wêreldwyd van die "Back to Church Sunday".

“Back to Church Sunday” (www.backtochurch.com) is ‘n internasionale inisiatief wat mense weer terugnooi na die kerk. Die oogmerk is om die mense wat lanklaas, of selfs nog nooit in die kerk was nie, weer uit te nooi na hierdie Sondag belewenis.

‘n Meningsopname is in Amerika gemaak en dit wys daarop dat 87% van Amerikaners in God glo, maar slegs 27% van hulle in die laaste sewe maande in ‘n kerk was. Verder wys dit dat die 82% van die wat kerk al bygewoon het, weer kerk toe sal gaan as hulle genooi word. Tog is daar net sowat 2% mense wat ander nooi om saam met hulle kerk toe te gaan.

“Ek is van mening dat dit hier in Suid-Afrika nie veel anders lyk nie,” het past. Danie Venter (leraar van die Lighuis gemeente) dié week gesê.

“Wat sou die rede wees dat ons mense nie ander nooi na die kerk toe nie of wat is die rede dat hulle net nie kerk toe kom nie? Hier wil ek nie eers my nek uitsteek om te spekuleer nie. Ons kan seker duisend dinge noem wat die kerk verkeerd of al verkeerd gedoen het, maar ek is ook seker ons sal meer goed as sleg kan opnoem wat die kerk al beteken het.”

Die Lighuis gemeente nooi die gemeenskap om op 21 September, om 9:00, te gaan deel wees van hierdie spesiale geleentheid. Die gemeente is op die hoek van Pongola- en Sondagsrivierstraat, Aerorand.

• Jaco Brits (voorheen verslaaf aan dwelms) sal tydens die diens ook sy getuienis lewer.

Back to top button