News

Koevoetbende vat kar

Die berugte koevoetbende, wat in die Wintermaande deure oopgebreek, twee vroue aangehou en huisware geroof het, het nou 'n 'n kar gesteel.

Die kar, ‘n Dodge, is egter etlike ure ná die inbraak verlate in die parkeerarea by Shoprite gevind.

Me. Louise Liebenberg het Maandag omstreeks 11:00 by haar huis in Renosterstraat (Kanonkop) gery vir sake in eMalahleni.

Besoekers het om 17:20 besef daar is fout by die Liebenbergs se huis, toe hulle wou gaan inloer en die gesin nie tuis is nie, maar die deure oopstaan.

Mnr. Willie Liebenberg sê die inbrekers het die veiligheids- en voordeur oopgebreek en hulself gehelp aan etlike duisende rande se huisware, waaronder ‘n televisie, kamera, klanktoerusting en videokamera. Die booswigte het ook weggekom met verskeie sakke kleingeld, wat in kaste was.

Die inbrekers het tydens hul strooptog opgemerk dat daar voertuigsleutels in die kombuis hang. Hulle het die motorhuis van binne af oopgemaak, hul buit in die gesin se Dodge gelaai, die motorhuis netjies weer toegemaak, en doodluiters weggery.

Die polisie het mnr. Liebenberg omstreeks 23:30 laat weet dat sy voertuig in die parkeerarea van Shoprite gekry is.

Mnr. Liebenberg sê daar is geen skade aan die voertuig nie.

• Hy bedank graag die polisie wat hulle gehelp het om die voertuig terug te vind.

Gedurende Junie en Julie vanjaar, is verskeie mense se deure met koevoete afgebreek en twee vroue, wat in die huis was toe die deure oopgebreek is, is aangehou.

Op 6 en 7 Junie is daar by ses huise ingebreek.

• Die Van der Lindes se huis in Selatistraat was die eerste op die lys. Me. Toy Korff bly agter in die erf en het die honde hoor blaf. Toe sy by die huis ingaan om deur die venster te kyk wat aangaan, was hulle reeds besig om die deur af te breek.

Die inbrekers het waarskynlik 'n koevoet (soortgelyk aan dié) gebruik om deure oop te breek by 'n huis in Renosterweg. Dit is na alle waarskynlikheid dieselfde koevoetbende wat in Junie en Julie vanjaar by verskeie huise ingekom het deur huisdeure oop te breek.
Die inbrekers het waarskynlik ‘n koevoet (soortgelyk aan dié) gebruik om deure oop te breek by ‘n huis in Renosterweg. Dit is na alle waarskynlikheid dieselfde koevoetbende wat in Junie en Julie vanjaar by verskeie huise ingekom het deur huisdeure oop te breek.

Voordat sy kon vlug of alarm maak, is sy deur die rowers oorval. Sy is in die huis rondgestamp en hulle het haar gedwing om later in ‘n kamer te gaan lê, met ‘n duvet oor haar kop. Die rowers het haar in die kamer toegesluit en die deur moes later oopgebreek word om haar te bevry.

• Die groep het afbeweeg na die Van Noordt-gesin se huis, waar deure oopgebreek en die huis gestroop is.

• In die vroeë oggendure (die volgende dag) is daar toegeslaan by dr. Pieter Bothma se huis in Eufeesstraat (Clubville). Diefwering is oopgebreek, maar die diewe het gevlug toe hy wakker word.

• Dr. Bothma se pa, Hennie, wat net agter hom bly in Hospitaalstraat, was die volgende slagoffer. Terwyl hulle by ‘n rugybwedstryd was (vir sowat twee ure), is hul huisdeure oopgebreek en waardevolle artikels gesteel.

• Dieselfde dag oor middagete het hulle huisdeure oopgebreek in Leipoldtstraat en ‘n televisie gebuit.

• Hierna probeer hulle toeslaan net ‘n klein entjie verder op in die straat, by ‘n gastehuis. Daar was egter iemand by die gastehuis, waarop die booswigte weer oor die muur gevlug het.

• Vyf dae later breek hulle weer huisdeure af en ‘n vrou kry nie kans om te vlug nie. Juwele en ‘n televisie is geëis en ook sy moes later op hul bevel onder ‘n duvet gaan lê.

• Op 4 Julie slaan hulle toe by past. Danie Venter se huis in Witrugstraat (Aerorand). Past. Venter was binne 10 minute by sy huis vandat die alarm afgegaan het, maar met sy aankoms het hy die deure oop gevind en was die inbrekers reeds weg met hul buit.

• Van die slagoffers het die groep die “hit and run” koevoetbende gedoop, omdat hulle so gou by die huise ingaan en dan verdwyn. Die vermoede bestaan dat die boosdoeners so vinnig handel, omdat hulle weet dat die meeste huise met alarms toegerus is en die reaksietyd van alarmbesighede sowat 10-15 minute is.

Back to top button