News

Oom Kobus oorlede

Die dorp se lopende geskiedenisboek, oom Kobus Joubert (75), is Saterdagmiddag 22 November in die Unitas Hospitaal oorlede, nadat hy twee weke gelede 'n hartomleidingoperasie ondergaan het.

Sondag was ‘n bittersoet dag vir die Joubert familie. Op dieselfde dag wat hulle agterkleinkinders gedoop is, is die swart kleed oor die stoel by die APKerk gegooi, om te wys hulle neem afskeid van een van hul lieflingouderlinge.

Mnr. Joubert se seun, Pieter (diaken in die kerk) is die geleentheid gegun om die kleed oor die stoel te gooi in herin-nering aan sy pa.

Tydens dieselfde diens is mnr. Joubert se agter-kleinkinders, Anke (‘n jaar oud) en Ané Prinsloo (vyf maande), die dogters van Willie en Daleen, gedoop.

Mnr. Joubert se vrou, Joey, het snikkend gesê dat “ek nie weet hoe ek sonder hom gaan aangaan nie. Kobus was almal se pa! Hy was ‘n ongelooflike pa en oupa en ‘n wonderlike man. Hy het nooit enige kwaad in iemand gesien nie.” Die egpaar was 54 jaar getroud.

Almal wat oom Kobus geken het, onthou sy staaltjies. Hy het Middelburg se geskiedenis op die punte van sy vingers geken. Selfs as sy kleinkinders saam met hom gery het, kon hy op byna elke hoekie van die dorp vir hulle iets vertel wat daar gebeur het. Hetsy of dit ‘n konsentrasiekampbegraafplaas of ‘n basis van die boere was.

Sy huis is ‘n historiese museum en van elke Bybel, wasskottel en potjie het hy ‘n verhaal gehad om te vertel. Sy kinders noem dit “die huis van herinneringe.”

Almal is dit eens dat die “geskiedenisboek nou toegemaak is. Hy was só familievas en die geskiedenis van die Joubert-familie het hom baie na aan die hart gelê. Hy het ‘n geweldige goeie geheue gehad en het altyd die familie tot aan oumagrootjiekant uitgelê!”

Mnr. Joubert word oorleef deur sy vrou, Joey, ses seuns, Braam, Pieter, Kobus, Marius, Johan en Faan, skoondogters, 11 kleinkinders en vier agterkleinkinders.

Teen druktyd was daar nog nie finale begrafnisreëlings getref nie. Persone wat navrae het, kan Jo-anne (skoondogter) bel by 082 409 9513.

• Dit is met hartseer dat die Observer ook afskeid neem van ‘n legende op ons dorp. As daar ‘n maand verbygegaan het sonder dat oom Kobus ‘n geskiedenisstaaltjie oor ons dorp kom vertel het, dan het ons gedink hy is siek. Ons groet jou, ou Grote. Ons gaan jou mis.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button