Nexbed moet gesloop word
Die hooggeregshof in Pretoria het beveel dat die Nexbed Hotel in Laverstraat 13A gesloop moet word.
Regter Cynthia Pretorius het tydens haar uitspraak gesê dat die Steve Tshwete Munisipaliteit in growwe versaking van sy pligte was, deur nie te sorg dat die bevel, wat al in 2008 gegee is, uitgevoer word nie. “Hulle het selfs sover gegaan om kragte saam te snoer met die vierde respondent (mnr. Wiley Harrington)!”
Die hofsaak volg nadat mnr. Constantine Panayodites (beter bekend as Costas) ‘n aansoek gebring het tot die hooggeregshof na ‘n geskil oor die Nexbed Hotel.
Hy het met die geding begin nadat mnr. Harrington, volgens hom, alle boureëls verontagsaam het, deur onder meer ‘n meter in sy (Panayodites) se erf in te bou. Verder sê hy dat mnr. Harrington ‘n ou gebou gesloop het sonder die nodige toestemming.
Tydens ‘n onderhoud met die Observer in 2012 het mnr. Panayodites gesê dat hy al vroeg in 2008 mnr. Willie Fouché (toe munisipale bestuurder) gevra het dat die bouwerk moet stop. Volgens mnr. Panayodites het mnr. Harrington aangegaan met bouwerk, sonder bouplanne. Slopingsbevele en bouregulasies ten opsigte van die boulyne is geïgnoreer.
Regter Pretorius het gesê dat mnr. Harrington versuim het om die nodige goedkeuring te verkry, asook dat die stadsraad versuim het om ‘n bevel van die landdroshof binne drie maande uit te voer, wat al op 1 Augustus 2008 uitgereik is.
Die munisipaliteit het in Maart 2008 aansoek gedoen vir ‘n interdik teen mnr. Harrington om alle verdere bouery op die perseel te stop. Daar is ook aansoek gedoen vir ‘n bevel om die gebou te sloop, sou hy versuim om bouplanne vir goedkeuring in te handig.
Op 1 Augustus 2008 het die munisipaliteit goedkeurig gekry om die gebou te sloop, sou mnr. Harrington nie binne drie maande weer bouplanne inhandig nie.
Daar is gemeld dat mnr. Harrington nie enige stappe geneem het om te appelleer by die hersieningsraad nie, alhoewel die landdros hom geadviseur het om dit te doen. “Hy het dit nie in die laaste sewe jaar gedoen nie.”
Daar is genoem dat mnr. Harrington ‘n nuwe aansoek gebring het vir goedkeuring van die bouplanne in Oktober 2008, nadat die gebou voltooi is. Hierdie aansoek is afgekeur. Hierna het hy aansoek gedoen vir die verandering van boulyne en gevra om munisipale grond te koop vir parkeringsdoeleindes.
Hierdie aansoek is ook afgekeur, waarna verskeie vergaderings tussen mnr. Harrington en die munisipaliteit gevolg het.
Later het mnr. Harrington aansoek gedoen om die stuk pad bokant die hotel in Laverstraat te koop en dit permanent te sluit.
Vir hierdie aansoek moes die munisipaliteit ‘n verkeersingenieur aanstel, om ‘n behoorlike verkeersstudie te doen oor die aansoek en ‘n verslag moes voorgelê word. “Niks het hieruit voortgespruit nie en geen verslag is ingedien nie,” het regter Pretorius gesê.
Mnr. Fouché het destyds in ‘n verklaring gesê dat die slopingsbevel gestipuleer het dat mnr. Harrington binne drie maande bouplanne kon inhandig en dat hy dit wel in hierdie tyd gedoen het.
Mnr. Fouché het gesê dat die bouplanne nie goedgekeur kon word nie, weens sekere dorpsbeplannings tekortkominge ten opsigte van boulyne, voldoende parkering en vir die sloping van ‘n ou gebou.
Regter Pretorius het die wet op Nasionale Bouregulasies aangehaal, waar dit stipuleer dat geen persoon ‘n gebou mag oprig sonder die skriftelike goedkeuring van die plaaslike owerheid nie.
Dieselfde wet maak voorsiening dat ‘n landdros die mag het om so ‘n persoon te stop of opdrag te gee dat die gebou gesloop word.
Volgens regter Pretorius het mnr. Harrington “volgens wet ‘n misdaad gepleeg!”
“‘n Toegeeflike benadering kan ‘n oop uitnodiging aan die gemeenskap wees om eiendom onwettig te gebruik met die hoop dat dit mettertyd gewettig word en indirek beskerm sal word deur die opskorting van ‘n interdik.”
Regter Pretorius het gesê dat die “aksies van beide partye so minagtend is deur willens en wetens die wet te oortree, dat ek voel dat ‘n spesiale kostebevel toepaslik is.” Dit behels dat die munisipaliteit en mnr. Harrington albei verantwoordelik is vir alle kostes van mnr. Panayodites op ‘n prokureur/kliëntbasis.
Regter Pretorius het die munisipaliteit opdrag gegee om uitvoering te gee aan die bevel van 1 Augustus 2008 deur die gebou te sloop. Sou die munisipaliteit nie uitvoering gee aan die opdrag nie, het die balju die mag om stappe te neem wat nodig is om te verseker dat die bevel uitgevoer word.
• Mnr. Harrington het 14 dae kans om appél aan te teken (vanaf die datum van uitspraak). Sy kommentaar oor die uitspraak verskyn elders.
•Om kommentaar te lewer op die berig sms die woord nexbed na 37940 en daarna jou kommentaar. Kostes is R1.50.
Lees vorige storie hier:
Al draai dit in konstitusionele hof
Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter to receive your free daily news updates.
Also check out our Video’s on Youtube daily!