News

Kruitvat ontplof op Jugomaro

'n Wips wag wat Woensdag deur 'n tier by Jugomaro aangeval is tydens die beslaglegging van die roofdiere in die likwidasiestryd vir die plaas, se bytwonde moes met meer as 190 steke geheg word.

Die vet was behoorlik in die vuur toe meer as 20 mans kort voor 08:00 by Jugamaro opgedaag het om die roofdiere, insluitende Bengaalse tiers, wit tiers, en Siberiese tiers, te verwyder, wat verkoop is in die voortslepende likwidasiegeding tussen die Fernandes familie en die nuwe plaaseienaar, mnr. Antonie Brown.

Brown is nie die koper nie, en die Daller kon vasstel dat ‘n boer van Noord-wes die katte gekoop het.

Die Fernandes familie, bestaande uit die egpaar Goosey en Rosa en hul seun, Justin, was onbewus van die beslaglegging en het vriende en familie gemobiliseer om Wips te verhoed om die katte van die plaas af te neem.

Teen 01:45 Donderdagmore, moes die polisie bontstaan om die botsende groepe uit mekaar te hou, en is daar eindelaaste besluit dat die katte op Jugomaro sal bly, waar hulle teen druktyd steeds in die vangwaens aangehou is.

Die tien tiers en twee leeus waarop beslag gelê is het 08:00 Woensdag egter laas geëet en gedrink en dierebelangegroepe het Donderdag teen druktyd om die mond geskuim weens die mishandeling.

Volgens mnr. Hans Pfahl van Wips, wat minstens vyf waarskuwingskote op die aanvallende tier geskiet het om hom van die wag af te kry, het die tier uit sy kamp ontsnap nadat die elektriese onheining afgesit is.

Naas ernstige bytwonde aan albei bene, het die Wips wag, wat bloot daar was om die beslaglegginsbevel uit te voer, sy regter femur in die aanval gebreek.

Mnr. Pfahl sê die tier, wat hoogs geïrriteerd was nadat hy verdoof is, hom ook telkemale gestorm het nadat die eerste waarskuwingskoot daarin kon slaag om hom van die beseerde wag af te jaag.

Hy kon eindelaaste daarin slaag om die tier by ‘n halfgeboude hok in te dwing, maar moes ‘n laaste waarskuwingskoot reg bo-oor die aanvallende tier se kop skiet, sodat die dier ver genoeg sou vlug, vir hom om die hek van die hok toe te maak.

“Hy was deurgaans so meter van my af, en ek moes skoot na skoot aftrek om die dier te laat wyk,” sê mnr. Pfahl.

Hy sê die laaaste leeu is omstreeks 13:15 gelaai en dat die konvooi deur ‘n naburige plaas sou beweeg vir ‘n kortpad.

Die Fernandes familie het die roete egter geblok en geweier dat die diere verwyder word.

Intussen het hulle ook ‘n dringende, dog onsuksesvolle aansoek by die Hooggeregshof ingedien om die bslaglegging te stop.

Die situasie was deurentyd so plofbaar dat mev. Fernandes en haar seun, Justin, telkens handgemeen geraak het met beslagleggers.

Naas die likwidasie-oorlog staan mnr. Goosey Fernandes ook tereg op klagte van wilddiefstal nadat verskeie bokke geskiet is vir leeukos in Desember. Mnr. Brown is die klaer.

Die Fernandes familie kon nie teen druktyd bereik word vir kommentaar nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button