Man sterf voor saak kon voortgaan

Na jare van treur en vrae oor haar pa en broer se afsterwe, het 'n vrou nou berusting gekry, toe hulle finale dokumente oor ondersoek se afsluiting gekry het.

Vyf jaar na die dood van Stephen Wilson (55) en sy seun Raymond (25) is die saak nou finaal afgesluit, omdat die persoon wat verantwoordelik was vir die ongeluk, ook in ’n ongeluk gesterf het.

Mnr. Wilson se dogter, Cindy Potgieter, sê hulle het verlede week die finale dokumente ontvang dat die saak afgesluit is, omdat die hoofverdagte, Xholane Singwayo, op 29 Julie verlede jaar oorlede is.

“Die saak sou in Augustus 2023 voortgaan en het my man, Ruan, saam met Wico Swanepoel, die prokureur van Afriforum, op en af in die gange geloop om te hoor wat van die saak geword het. Op dié dag is Wico meegedeel dat mnr. Singwayo oorlede is.”

Cindy meld dat hulle verneem het dat mnr. Singwayo net ’n blok verder van waar haar pa en broer se noodlottige ongeluk plaasgevind het, in ’n ongeluk in Samora Machelstraat betrokke was en hy later in die hospitaal aan sy beserings beswyk het.

Die Wilsons is albei dood in die noodlottige botsing by die kruising van Dr Mandela-rylaan en Samora Machelstraat op 31 Maart 2019. ’n Ooggetuie het later vir die ondersoekers gesê dat Singwayo mnr. Wilson se voertuig by die kruising getref het, nadat hy na bewering ’n rooi verkeerslig verontagsaam het.

Nadat hulle jare niks gehoor het oor die saak nie, het Cindy haar tot AfriForum se Privaatvervolgingseenheid gewend, wat die saak onmiddelik pro bono ondersoek het.

Na maande se onderhandelings tussen die eenheid se advokaat, Phyllis Vorster, en plaaslike beheeraanklaers, het die saak by landdros Deon Minnie se distrikshof geland, waar Singwayo aanvanklik homself wou verdedig in die saak.

Landdros Minnie het hom egter gewys op die erns van die klagtes teen hom en het hy ingestem tot regshulp.

Cindy het tydens ’n vorige onderhoud gesê dat sy “gebroke” is, nadat sy nie net haar pa en broer verloor het nie, maar twee jaar later ook haar ma, Sonja Wilson.

Mev Wilson het in 2021 Covid-19 opgedoen en het Cindy gesê dat haar ma “die wil om te veg prysgegee het.”

Voor haar dood, het me. Wilson vir haar dogter gesê: “Ek is moeg, ek kan nie aangaan sonder my kind nie.”
Cindy glo dat haar ma moontlik kon oorleef het met die ondersteuning van haar pa en broer.

• Die dokumente wat hulle ontvang het, wat bevestig dat Singwayo oorlede is en die saak gesluit is, bring vir hulle finale afsluiting en berusting, sê Cindy.

Exit mobile version