Sorina vertel van kersplanne

Die geliefde Afrikaanse aktrise en sangeres, Sorina, deel haar planne vir die nuwe jaar, haar opgewondenheid oor hulle baba en verklap aan Rekord wat die kleinding se naam gaan wees.

Sorina, ook bekend as die Witbank se Flooze, is een van Pretoria se mees geliefde sangeresse. Sy het onlangs met Rekord gesels oor haar nuwe album, haar kersplanne, haar swangerskap en het die naam van dié klein “tjommie” verklap.

Hoe sal jy die afgelope jaar opsom? Watter hoogtepunte staan vir jou uit?

Vanjaar was ’n besige en geseënde jaar gewees, vol shows regoor die land. Dit bly ‘n voorreg om te kan sing vir die nasie en met hart en humor iets van waarde vir ander te kan beteken. Die hoogtepunte vir my hierdie jaar sal beslis wees die tye wat ek net by die huis kon wees en asemskep in ons mooie Pretoria. Dan skop ek my skoene uit en raak ek ’n kaalvoet meisiekind.

Hoe gaan dit met die baba en jou swangerskap?

Die boepie groei daagliks en een van die dae gaan ek ’n groter magie as my skoonpa hê. Ek hoop hy hou al sy boerderyklere vir my, want my klere pas nie meer so lekker nie. Die klein tjommie van ons se due date, as alles goed verloop, is 19 April.

Watter geheim kan julle verklap oor die nuwe baba?

Sy naam is Braam Riekert, net soos sy Pappa s’n en hy sal die vierde geslag Braam Riekert wees. Ons is so onbeskryflik opgewonde en dankbaar vir hierdie hemelse wonderwerkie wat God aan ons op aarde leen.

Wat is jou planne vir Kersfees?

Kwaliteit-tyd saam met my man en my ouers. Ek en my man roteer elke jaar by wie se ouers ons daardie Kersfees en Nuwe Jaar gaan wees. Vanjaar is Kersfees by my ouers en Nuwe Jaar by my skoonouers. Ons is altwee familie-vas en daarom wil ons nêrens anders wees as by ons nabye geliefdes nie.

Beskryf jou ideale Kersfees.

Altyd saam met ons hartsmense. Ek en my man is altwee suckers vir gekookte boerekos. En elke Kersfees, maak nie saak by wie ons fees vier nie, is daar altyd gekookte kos ook op die spyskaart. Dan eet ek dat my magie staan soos ‘n 9 maande verwagtende vrou. Al verskil is vanjaar gaan ek eet en lyk soos ‘n hoogswanger vroutjie. Dan is ons ook in hart en siel braaimense en daar sal beslis saam met die kookkos vanjaar ‘n lekker vleisie op die kole gegooi word saam met my pa.

Watter Kersfeestradisies van jou kinderjare sal jy eendag wil deel met klein Braam Riekert?

Alles van persente, Kersboom versier, die dae aftel, krismisvader, Kersliedjies sing – al die lekkerte van Kersfees. Maar die belangrikste van alles is om die fondament van Kersfees reeds van kindsbeen af aan hom oor te dra sodat hy nooit sal vergeet waaroor Kersfees regtig gaan nie en altyd sal onthou “JESUS IS THE REASON FOR THE FESTIVE SEASON.”

Wat is jou nuwejaarsvoornemens?

Ek het nog nie sover gedink nie. Onthou ‘n swanger vrou kan nie multi-task nie en ek lees ons vergeet ook baie, so dalk teen daai tyd het ek al vergeet wat my voorneme was om te onthou.

Watter groot planne het jy vir 2014?

Ek is tans druk besig met my nuwe album wat einde 2014 op die rakke sal wees as alles goed verloop. Die album sou April-maand uit wees, maar met klein Braamlief se koms in April, gaan die album beslis moet aanskuif na later in 2014. Ek gaan reeds vroeg in Januarie begin met al my stemopnames in die ateljee, so my jaar gaan nogals besig begin (kom ons hoop teen daai tyd gaan ek nog die mikrofoon naby my mond kan bring met die hoogswanger magie wat daagliks met die spoed van lig groei.)

Maar ek sien baie uit na die nuwe album se opname, want ek het al die liedjies self geskryf. Dit is vir my persoonlik, van my beste kreatiewe werk nog – dit is nou van Flooze tunes en Sorina-liedjies. Ek wil hê dat alles van my kant af gedoen moet wees voor boetie sy opwagting maak, want dan is dit eers 100% alle aandag op hierdie Godgegewe wonderwerkie wat my letterlik laat sing van vreugde.

Exit mobile version