Man in hof vyf jaar ná ongeluk wat tiener van Middelburg eis
Dit blyk of geregtigheid moontlik binnekort sal geskied nadat 'n tiener vyf jaar gelede van 'n bakkie afgeval het.
Meer as vyf jaar nadat Henko Booysen (13) gesterf het na ‘n ongeluk in Dennesig, Middelburg, het daar hierdie week ‘n man in die hof verskyn op ‘n klagte van strafbare manslag.
Jaen-Pierre (JP) Booysen (24) het Vrydagoggend vlugtig in die streekhof op Middelburg verskyn.
Hy het vir regshulp aansoek gedoen en die saak is uitgestel na 30 Maart vir afskrifte van die dossier.
Sy verskyning spruit voort uit die gebeure van 6 November 2017 toe Henko Booysen glo van ‘n bakkie afgeval het in Dennesig. Hy is kort daarna in die hospitaal oorlede. Hy het ‘n maand voor sy 14de verjaardag gesterf.
In November 2022 was dit vyf jaar wat sy ma, Erika le Roux, geen antwoorde kon kry nie.

Elke keer as hulle navraag gedoen het by die polisie, was die antwoord glo: die ondersoek is nie afgehandel nie.
Le Roux het elke keer genoem dat die persoon, wat 18 jaar oud was tydens die ongeluk, glo nie ‘n lisensie gehad het toe hy die bakkie bestuur het nie.
Die aanklaers het elke keer ook die dossier teruggestuur vir die ondersoekbeampte, omdat daar baie uitstaande inligting was.
Le Roux het uit radeloosheid met AfriForum kontak gemaak, wat ingestem het om te help.
Sy het haar dank teenoor die organisasie uitgespreek vir die hulp, asook teenoor die nuwe ondersoekbeampte vir sy harde werk.
Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, het onlangs gesê dat dit in hierdie saak jammer is dat dit soveel jare geneem het vir die polisie om hul ondersoek af te handel en vir die Nasionale Vervolgingsgesag te gee om ‘n besluit te neem.
“Geregtigheid is belangrik vir gesinne waar voorvalle van hierdie aard plaasvind. Die feit dat dit al die jare in die lug gehang het, het op sigself emosionele en sielkundige skade vir die gesin veroorsaak.”
Die klagtes wat ondersoek word in die saak is: strafbare manslag, roekeloos nalatige bestuur en bestuur sonder ‘n geldige bestuurderslisensie.
Read original story on www.citizen.co.za