Local newsNews

Corné het liefde geleef ten spyte van haar pyn

Haar opregte belangstelling in ander was een van haar mooiste gawes.

Vrydag 14 Februarie was die einde van ‘n jarelange pad met kanker vir Corné le Roux van Salon Bello. Die leemte wat sy in soveel harte in haar famile, en die gemeenskap van Parys laat, is onmeetbaar groot. Selfs in die moeilikste van tye was haar lewe ‘n getuienis van liefde, vreugde en geloof.

Corné, ‘n oudskolier van Parys, was mede-eienaar van Salon Bello sedert 2012.

Vir haar was haar beroep ‘n roeping, maar sy was soveel meer as ‘n haarkapper. Sy was ‘n hartsvriendin wat met deernis kon luister, sag kon raad gee, nooit geoordeel het, en nooit die slegte in mense kon sien nie. Die toonbeeld van vreugde wat as jy sou vra hoe dit gaan, altyd sou antwoord dat dit goed gaan. Sy’t nooit gekla oor haar eie pyn nie, maar haar omgee stil-stil gewys waar nood was.
Haar man, Pieter, haar kinders en haar familie was haar anker en haar trots. Haar vriendinne was haar tuin waar sy haar liefde in oorvloed gesaai het – spontaan, nederig, op haar unieke Coela-manier.

Kanker is die eerste keer in 2016 by haar gediagnoseer, en het sy haar stryd teen borskanker gewen. Vir ongeveer ‘n jaar was haar kanker in remissie, maar het dit oor die jare telkemale vatplek in haar liggaam kom kry. Ten spyte daarvan het Corné nooit opgegee nie, moedig geveg teen die siekte, en so hard gewerk as wat haar gesondheid haar toegelaat het – altyd met daardie groot glimlag en helder oë.

Sy het elkeen wat voor haar in die haarkapperstoel sou sit soos ‘n koning of ‘n prinses laat voel, en die kuns geken om ‘n geselskap op te helder met haar liefdevolle geaardheid waarmee sy diep onder jou vel ingekruip het – sommer die eerste keer al as jy haar sou ontmoet.

Corné le Roux

Sy was ‘n inspirasie vir baie wat ook ‘n pad met kanker moes loop en wie sy kon bemoedig. Haar opregte belangstelling in ander was een van haar mooiste gawes. Sy het gegee, nooit terug verwag nie – selfs ten spyte van haar eie uitdagings.

Einde 2024 het die kanker opnuut haar liggaam afgetakel en was sy terminaal siek.

Corné was in en uit in die hospitaal, totdat sy in Desember permanent gehospitaliseer moes word. Die liefdevolle hande van haar man, familie, kinders en vriende het haar omarm tot die einde.
Corné se lewe was ‘n storie van 49 jaar se opregte liefde waarvan die laaste hoofstuk Vrydag voltooi is. “Ons sal jou venterfototjies, jou omgee en jou menswees koester met mooi herinneringe van die nederige, hartsmens wat jy was.”

Die gedenkdiens vir Corné is Vrydag om 11:00 vanuit die NG Oos-gemeente.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button