Local news

Munisipale bestuurder daag nie vir vergadering op nie

Afriforum wou nie net al hierdie probleme geopper het nie, maar ook die munisipaliteit bedank het vir die werk wat reeds gedoen is om Potchefstroom te verbeter.

Die Afriforum-tak in Potchefstroom het onlangs vir die tweede keer in een week voor dooiemansdeur by die munisialiteit te staan gekom.

Dié tak se lede het ’n vergadering met Kgomotso Kumbe, die munisipale bestuurder, gereël om belangrike diensleweringskwessies te bespreek, maar hy het op 30 Oktober vir die tweede keer versuim om, sonder verskoning, hiervoor op te daag.

“Daar is dringende diensleweringskwessies wat die gemeenskap negatief beïnvloed wat op die agenda was, waaronder die pompstasie in Chris Hanistraat wat nie na behore werk nie en nou rou riool in die veld en in die Mooirivier stort,” het Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder in die Mooirivier-streek gesê.

Die tak was boonop van plan om uitgebreide besprekings oor ’n reeks probleme te hou, soos die menigte straatligte wat buitewerking is. AfriForum het reeds ’n omvattende oudit oor die gebreekte straatligte aan die munisipaliteit voorsien. Die voortdurende voorkoms van slaggate is ook een van die belangrike kwessies wat bespreek sou word, asook die feit dat daar gedurig ’n deel van Potchefstroom sonder water sit.

Die tak wou ook onader andere weet wat die stand van sake is met die vredesbeamptes in die stad en oor of daar verkeerstekens by die ingang van die Potchefstroom Buiteklub opgerig gaan word.

“Dis werklik ’n klap in die gesig om herhaaldelik, sonder ’n verskoning, nie ’n afspraak met ’n belangrike agenda na te kom nie. AfriForum voer gereeld die stryd teen swak dienslewering, maar die burgerregteorganisasie wil ook hande vat met die munisipaliteit om te help bou aan die stad waarvoor talle mense omgee en vir lief is,” sê Pretorius.

Die tak wou nie net al hierdie probleme geopper het nie, maar ook die munisipaliteit bedank het vir die werk wat reeds gedoen is om Potchefstroom te verbeter. Die munisipaliteit het onlangs die verkeerslig op die hoek van Chris Hani- en Nelson Mandelastraat herstel en reeds skouer aan die wiel gesit om die vullisterrein en oorlaaistasie in ’n beter toestand te kry.

Teen tyde van publikasie het die munisipaliteit nie op die Herald se navrae om kommentaar reageer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button