Plaaslike skoonheid gekroon kort nà traumaties aanval
Die plaaslike skoonheid, Corné Labuschagné, wat onlangs drie misdadigers laat les opsê het, is gekroon as Mev CSN Gauteng 2013 van die Role Model's Foundation.

Sy is nie net vinnig en dapper nie, maar het ook bewys dat sy een van die mooistes in the provinsie is.
Die plaaslike skoonheid, Corné Labuschagné, het onlangs drie misdadigers laat les opsê toe sy hulle verdryf het met ‘n skoktoestel toe hulle by haar huis in Theresepark ingebreek het.
Slegs ‘n week later, is dié pragtige vrou gekroon as Mev CSN Gauteng 2013 van die Role Model’s Foundation.
“Dit is ‘n wonderlike geleentheid om my passie te kan uitleef as ‘n motiveringspreker, skrywer en sakevrou en om deel te wees in die welsyn van die minderbevoorregtes.”
Die nuutgekroonde Mev CSN Gauteng 2013 het vertel dat dit ‘n besondere groot eer is om as verteenwoordiger van die Role Models Foundation asook ander nie-winsgewende organisasies te dien. “My doel en passie is om lewens te verander en deur middel van hierdie titel sal ek minderbevoorregtes kan help om hulself en hul lewensstandaard te verbeter.”
Labuschagné het die week voor haar kroning drie booswigte in haar huis betrap en deur vinnig te reageer en ‘n skokstok in haar slaapkamer te kry, kon sy die drie booswigte verdryf.
“Ek is dankbaar dat ek dit oorleef het. Ek bly steeds ingestel op onbekende geluide in die huis. Ek weet dat die Vader se hand oor my was en steeds is, dat ek kon waarneem, fokus en stil raak en luister na die stem binne my.”
Sy het almal aangeraai om hulle tuistes veiliger te maak sodat hulle misdaad kan bekamp. “Ek sal beslis enige persoon aanbeveel om op verskillende plekke in hulle huis beskerming soos pepersproei, ‘n skokstok of iets anders aan te hou. Die persoon wat jou privaatheid betree, ken nie jou huis nie, derhalwe kan jy jouself beskerm in gevalle waar jy weet jy geen kans het om te ontsnap nie.”