Local newsNews

Tiener beland in mangat

'n Tienermeisie het in 'n mangat beland nadat dié se deksel gesteel is in nog 'n afsonderlike geval.

Die 16-jarige Cheslin Potgieter is gelukkig om nog te lewe en veral omdat hy slegs ’n skrapie aan sy linkerarm opgedoen het nadat hy verlede Vrydag in ’n mangat in Silverton, waarvan die deksel glo gesteel is, beland het.

Dit is glo die tweede maal in enkele weke dat dieselfde mangatdeksel gesteel is, en omdat die metro se voorraad deksels op is, is die mangat slegs met plastiek toegemaak.

Reddingspersoneel het gevrees dat Potgieter moontlik sou omkom vanweë die sterk vloei van die riool en die toksiese gasse in die stelsel.

Merkwaardiglik het die jong man twee kilometer verder in die rigting van Koedoespoort die dood ontsnap toe hy daarin kon slaag om deur ’n sytak uit die hoofpypstelsel te klim.

Hy is deur ’n sekuriteitsbeampte na die Silverton polisie geneem waar hy met sy vriende, Claude Bera (16) en Markus Waterson (18), herenig is.

Die drie seuns is ná die traumatiese ervaring na die Mamelodi hospitaal geneem waar hulle vir skok behandel is.

Volgens die seuns het hulle oor die heining gespring om ’n kortpad na Silverton Hoërskool, waar Waterson huiswerkmateriaal gaan afhaal het ná skool, te neem. Die seuns het glo gesien hoe Potgieter deur die plastiek val wat oor die mangat getrek was. Dit was die laaste wat hulle van hom gesien het.

Twee kilometers verder het ‘n verbaasde Jeffrey Mahlangu ‘n kind uit die bosse sien kom. “Ek het eers gedink dis ‘n skelm, maar toe gesien dit is ‘n deurdrenkte kind wat deurmekaar voorgekom het. Ek het toe besluit om hom na die polisie toe te vat,” het Mahlangu gesê.

Chris Buys, ’n loodgieter met kennis oor die metro se rioolstelsel het aan Rekord gesê as Potgieter nie daarin geslaag het om self uit die hoofstelsel te onsnap nie, sy kanse op oorleweing uiters skraal was.

“Die strome vloei baie sterk hier en om ’n reddingspoging te loods, is so te sê onmoontlik omdat die stelsel nie afgesluit kan word nie. Dan is daar ook die gasse in die ondergrondse pype wat lewensgevaarlik is,” het hy verduidelik.

’n Tshwane metro onderhoudspan was ook op die toneel en het aan Rekord gesê dat die mangat se deksel verlede week vervang is, maar teen Maandag weer as vermis aangemeld is.

“Ons het hierdie deksel verlede week vervang. Daar is nie nog voorraad om die gesteelde deksel te vervang nie. Ons sukkel om voor te bly,” het Zach Qwabe gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button