Local newsNews

Herdenking van Villieria-ontploffing

Villieria ontploffing word na 13 jaar herdenk.

Dertien jaar nadat die lewens van Moot inwoners geruk was deur ‘n massiewe ontploffing waarin drie mense gesterf het en miljoene rande se skade aangerig is, voel dit vir sommiges asof dié swart dag gister plaasgevind het.

Met die 13de herdenking van die Villieria-ontploffing leef dié slag steeds voort in die geheue van die inwoners.

Skade van R4,7 miljoen is op 10 Oktober 2000 aan 17 huise in die buurt aangerig toe sowat 125kg kommersiële plofstof in Derrick Barrett se motorhuis in 27ste Laan ontplof het.

Sy vrou, Louisa,’n buurman, Hans Werner, en ’n tuinwerker, George Makhubela, het gesterf. Marlene van Niekerk, Barrett se destydse sekretaresse, het die sig in haar een oog verloor.

Barrett is kort daarna in hegtenis geneem, maar is eers op 22 Februarie 2011 tronk toe. Hy is reeds in April 2003 aan strafbare manslag en die besit van springstof op ’n ongelisensiëerde terrein skuldig bevind.

Verlede Donderdag was die herdenking van die tragiese ontploffing en verskeie inwoners het hul stories met Rekord gedeel ter nagedagtenis van die slagoffers.

Jacques Visser, ‘n springstof begeleier met 14 jaar se ondervinding onthou die Villieria ontploffing soos gister.

“Ons is daai Dinsdag na die toneel ontbied. Groepies mense het in die straat vergader. Die motorhuis en ‘n gedeelte van die huis was heeltemal verwoes met die slag.”

Visser het gesê kort na sy aankoms op die toneel het hy op dié eerste twee lyke afgekom.

“Nadat ons die lyke gewaar het, moes ons vinnig spring om die toneel af te sper. Ons grootste prioriteit was om die toneel veilig te verklaar, maar om dit te doen moes ons seker maak dat daar nie ‘n moontlikheid van ‘n sekondêre ontploffing was nie. Ons grootste probleem was die nuuskierige mense wat nie die gevaar besef nie.”

Dié kommersiële plofstof het ontplof waar dit op die grond van die motorhuis in ‘n krat gestaan het.

“Die ontploffing het twee golwe veroorsaak. Een op die grond en een in die lug. Wat vir my die mees opvallendste was, was dat die mure en die hout wat van die huis weggeruk was in die slag soos ‘n golf teen die palmboom opgestoot het.”

Volgens Visser het die gemeenskap behoorlik saamgetrek en almal het gehelp waar hulle kon.

“Ek onthou nog dat die vrouens by die kerk saamgekom het en vir ons, die nooddienste, kort-kort kos en drinkgoed gebring het. Ons het nagte deur gewerk om die area te beveilig.”

‘n Ander ooggetuie, Lynette Venter, het in 2000 by ’n vriendin in 26e Laan gebly en was by ’n bekende winkel in die omgewing toe die ontploffing plaasgevind het. Volgens Venter was die ontploffing so groot dat dit gedeeltes van die winkel se dak uitgeruk het. Sy het gesê hul huis in 26e Laan se vensters was ook almal gebars.

Sonja Janse van Rensburg, ’n Gezina-inwoner, het gesê dat sy die onploffing onthou asof dit gister gebeur het.

“Ons het in 28e Laan, tussen Ben Swart- en Haaroffstraat, skuins agter die huis wat ontplof het, gewoon. Ons het baie skade gehad en het vir ’n paar dae nie een enkele heel venster gehad nie. Ons het komberse voor die vensters gehang en die ergste was die ontruimings wat selfs weke daarna geduur het.”

Sy het ná die slag vreemde goed in hul erf opgetel soos stukke van ’n motor, ’n halwe fiets en groot voertuigonderdele. Janse van Rensburg se eerste gedagte toe sy van die ontploffing gehoor het, was haar kinders wat in die naskool in Haarhoffstraat was.

“Ek was histeries en wat dinge vererger het, was nuuskierige mense wat ons hele straat vir dae toegesit het. Ons moes elke keer mooi verduidelik dat ons in die straat bly en net probeer om by die huis te kom.”

Die letsels van die onploffing sal nog vir jare onthou word, maar dié tragedie het die Moot gemeenskap vir ’n baie lang tyd verenig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button