Rekordbreker inspireer en motiveer wêreldwyd
Wereldbrekerfietsryer wil vir 50 uur aaneenlopend bel.

Wêreldrekordhouer en motiveringsspreker André van Zijl is tans besig om voor te berei vir die volgende rekords wat hy wil opstel in die komende twee maande.
Donderdag is sy uitdaging om vir sewe dae aaneen kunsvlieghengel aan te pak in Johannesburg en op 7 November beplan hy om in Hennopspark sy volgende rekordpoging aan te durf. Van Zyl wil vir 50 uur aaneenlopend gesprekke oor die telefoon voer. Hy het alreeds ongeveer 20 radiostasies genader wat hom gaan skakel in hierdie tydperk, maar hy het ook die publiek uitgedaag om hom te ondersteun om sodoende fondse in te samel vir minderbevoorregte kinders en liefdadigheid.
Om bewustheid rondom liefdadigheid te bevorder, is Van Zijl bereid om mense twee uur in die oggend wakker te bel en hulle te vra wat hulle onlangs vir liefdadigheid gedoen het.
Verder is die publiek ook welkom om hom te skakel. Hy sal geestesbystand bied en gesprekke voer oor MIV/Vigs.
Van Zijl het sedert 1988 sy lewe daaraan toegewy om ander mense te help en by te staan rakende hierdie lewensveranderende virus. Van Zijl het in die 1980’s uitgevind dat hy MIV-positief is en 32 jaar later is hy die persoon wat die langste met die virus leef.
Van Zijl word beskou as die land se mees-bekende Vigs-aktivis. Van Zijl beskou homself egter nie as ’n aktivis nie, maar eerders as iemand wat omgee, het hy gesê.
Sy positiewe uitkyk op die lewe, veral rakende Vigs, het talle mense regoor die wêreld positief beïnvloed.
Van Zijl het al R33 miljoen ingesamel deur sy projekte wat hy regoor die land aangepak het om kinders in moeilike omstandighede te befonds.
Bo en behalwe hierdie rekords, het hierdie 64-jarige ook 39 rekords agter sy naam.
Hy het in 2009 die rekord opgestel vir 50 uur lank in ‘n borrelbad te sit. In 2007 het hy petrol gepomp vir ‘n duisend uur aanmekaar en onlangs het hy 150 stukkies sushi in 10 minute opgeëet.
Van Zijl het regoor die land en wêreld gereis om hierdie rekords aan te pak en om bewustheid rondom MIV en Vigs te bevorder.
Van Zijl se prestasies het hom die roem verwerf as ’n baken van hoop in Suid-Afrika. In Namibiё is hy ‘n ere-burgerskap aangebied en die burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, het ‘n sertifikaat aan hom gerig om hom geluk te wens met die reistogte wat hy aangepak het.
Die burgermeester van Knysna het hom vereer as Knysna se welwillendheidsambassadeur.
Van Zijl het 25 jaar gelede ‘n hand-geskrewe brief van Margaret Thatcher ontvang omdat sy hom nie persoonlik kon gelukwens toe hy in 1988 van London na Edinburgh die 900km in sewe dae gerolskaats het nie.
Van Zijl het nooit toegelaat dat sy MIV-status hom verhinder om sy drome na te streef nie. Hy glo dat ‘n mens net een keer lewe en dat ‘n mens dit ten volle moet geniet.
Nie eens die gevaar wat hy elke dag in die oë staar, sal hom onderkry nie en hy het dit onlangs beleef toe twee rowers sy fiets van hom wou roof. Van Zijl het gesê hulle kan eerder sy selfoon neem. Hy het toe ‘n meganisme uit sy sak gehaal en hulle daarmee geskok.
Van Zijl se bewusmakingsveldtogte rondom MIV en Vigs het alreeds in 1988 begin, maar hy het eers in 2010 sy fiets begin trap. Tot dusver het Van Zijl 126 000 km afgelê. Hy het gesê dat hy elke dag van die week tussen 80 km en 120 km ry.
“Ek is ‘n adrenalienjunkie en ek dink my voete het al lankal moed met my opgegee,” het Van Zijl laggend gesê. “Ek glo nie in wonderwerke nie, ek leef dit.”