Local newsNews

Kansa DAREdevil wedloop vir dapper mans

Die vyfde jaarlikse Kansa DAREdevil wedloop word binnekort aangebied waar mans in baaikostuums deur die strate van Pretoria sal hardloop vir die bewusmaking van kanker in mans.

Die strate van Pretoria gaan binnekort gevul word met tientalle dapper mans, geklee slegs in rooi baaikostuums, ten bate van prostaat- en testikulêre kanker.

As deel van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se gesondheidsveldtog vir mans gedurende November, bied Kansa die vyfde jaarlikse DAREdevil-wedloop op 8 November landswyd aan.

Die wedlope word gehardloop deur dapper manne in speedo baaikostuums om die publiek bewus te maak van kanker wat mans raak.

“Ons moedig alle Suid-Afrikaanse mans aan om kragte saam te snoer deur deel te neem aan die DAREdevil-wedloop om so kanker uit die dorp uit te jaag. Ons hoop om 5 000 mans te betrek in hierdie baldadige avontuur,” het Carel Nolte, ’n woordvoerder van die borg, gesê.

“Die DAREdevil-boodskap is duidelik: bewustheid en vroeë opsporing red lewens. Ons mikpunt vanjaar is om die diversiteit van ouderdom en belange van diegene wat vanjaar vir die wedlope inskryf en dit in agt stede gaan aandurf, radikaal uit te brei.”

Met die fokus op prostaat- en testikulêre kanker, beoog Kansa om die manne bewus te maak van die waarskuwingstekens van kanker en maniere om hul risiko’s te verminder.

Die wedloop vind plaas om 16:00 op 8 November by die Rietondale tennisklub by Rietondalepark in Van Der Merwestraat.

Vir meer inligting besoek gerus die DAREdevil se webtuiste by www.daredevilrun.com.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button