Woodlands-gesinsmoord: Familie deel hartseer
Eksklusiewe onderhoud met die familie van die vermoorde Carla van Wyk.

Die komende naweek sou die begin gewees het van ’n nuwe lewe vir Carla van Wyk en haar drie seuntjies.
Haar lewe en dié van twee van haar kinders, De Wet (4) en Heindrich (2), is egter wreed beëindig op Maandagmiddag toe Van Wyk se gewese vriend, Matthew du Toit, hulle koelbloedig in die Woodlands-landgoed se speelparkie doodgeskiet het voordat hy die pistool op homself gerig het. Van Wyk se derde seuntjie (7) het gesien hoe Du Toit sy ma en twee boeties vermoor. Dié seuntjie se biologiese pa het hom na dié skietvoorval kom haal.
Carla was die afgelope maand by haar ouerhuis vanwaar hulle saam na die Kaap sou verhuis. Carla en haar twee seuntjies het by haar ouers kom woon nadat sy haar verhouding met Du Toit in die begin van Oktober beëindig het. Sy het toe glo reeds ‘n interdik teen Du Toit gekry.
Die trane lê vlak in die diep stem van Eugene Henning, die familie se woordvoerder, wanneer hy oor Carla praat. Die ongeloof, hartseer en ook woede oor wat met die familie se pragdogter en haar twee seuns vroeër vandeesweek gebeur het, is steeds onwerklik.


“Ons is sterk vir mekaar, maar soms is die hartseer net te veel. Ons ontvang traumaberading en vat elke dag soos dit kom.”
Henning beskryf haar as ’n vrou met ’n aansteeklike persoonlikheid wat ’n glimlag gehad het wat elke vertrek kon ophelder. “Sy was ’n baie mooi kind. Wanneer Carla gelag het, kon jy nie jouself keer om ook saam met haar te lag nie. Sy was ’n passievolle ma. Kinders was baie lief vir haar.”

Henning voeg by dat Van Wyk een van vier kinders was en dat die leemtes wat nou in hulle lewens gelaat is, nooit gevul sal word nie.
“Carla het vir almal gesorg, dit was deels haar beroep as apteker-assistent, voor sy besluit het om voltyds na haar kinders om te sien.”
Die familie het steeds baie vra en volgens Henning sal daar nog ’n lang pad na genesing gestap moet word.
“My skoonouers het besluit om voort te gaan met die trek Kaap toe hierdie komende naweek. Ons sien dit as ’n laaste afsluiting. Ons groet vir Carla en die seuns op Vrydag en sal dan die hoofstuk toemaak. Ons gaan hulle verskriklik baie mis.”
’n Roudiens vir Van Wyk vind Vrydagoggend plaas in die NG Kerk Moreleta om 10:00.
Lees ook:
Bestuurder van landgoed praat oor gesinsmoord
