Die gewraakte PEU Capital Partners (Pty) Ltd kontrak wat verlede jaar in verskeie hewige Tshwane-metro raadsvergaderinge in die spervuur was, sal op 24 en 25 Februarie in die Noord Gautengse Hooggeregshof aangehoor word.
Die omstrede kontrak wat die Tshwane metroraad miljarde rande uit die sak gaan jaag, is al deur verskeie waarnemers die “e-tol van kraglewering” genoem.
Die hofsaak word aangevoer nadat AfriSake by wyse van gelekte dokumente bewus gemaak is van die ongerymdhede in die dokument en na ’n indringende eie ondersoek deur die burgerregte organisasie.
AfriSake het sy hofaansoek teen die Tshwane metroraad en PEU op 5 Desember 2013 ingedien met die plan om op ’n semi-dringende basis die hof te nader om die implementering van die nuwe voorafbetaalde kragstelsel te keer
totdat die hof behoorlik oorweging geskenk het aan die omstrede wyse waarop die kontrak toegeken is en die grondwetlike implikasies daarvan.
Volgens Willie Spies, AfriSake se regsverteenwoordiger, is die kontrak ’n radikale afwyking van die metroraad se grondwetlike bevoegdhede. Die kontrak bepaal onder meer dat alle kostes vir die projek deur die metroraad uit belastings betaal word, maar dat alle infrastruktuur wat in die proses aangeskaf word die eiendom van PEU word.
“Op die manier raak die Tshwane metroraad ’n gyselaar van PEU en kan daar in die toekoms alleenlik teen ’n reusagtige koste vir die stad en die belastingbetaler wegbeweeg word van PEU as diensverskaffer,” het hy
gesê.
Hy het betreffende die tweede grondwetlike kwessie daarop gewys van dat die stadsraad effektief sy bevoegdheid om
heffings, belastings en elektrisiteitsrekeninge in te vorder abdikeer aan ’n private sakeonderneming wat dit vir winsbejag doen. ’n Syfer van 19,5% op alle invorderings, wat kommissie van die elektrisiteitstarief is, word in sekere dokumente genoem. Die implikasie hiervan is dat een vyfde van die metroraad se totale inkomste wat van belastingbetalers kom uit die stadskas weg gekanaliseer word na die kontrakteur.
“Dit is ’n duur, radikale en drakoniese kontrak wat belastingbetalers vir ewig gyselaars hou van ’n span onervare tenderpreneurs. Die eienaars van PEU was ook betrokke by die Johannesburgse stadsraad se rekeningdebakel ’n paar jaar gelede,” het hy gesê.
Die verrigtinge wat op 24 en 25 Februarie aangehoor word sal bloot handel oor die toestaan van ’n dringende interdik teen die verdere implementering van die nuwe stelsel.
“Die rede vir hierdie interdik is om ’n situasie te verhinder soos in Outa se aansoek teen Sanral waar die konstitusionele hof bevind het dat die ontevrede partye te lank geneem het om die hof te nader. In hierdie geval
het die implementering van die proses nog nie sover gevorder nie. Dus kan dit nog gekeer word,” het Spies in ’n verklaring gesê.