Gehoorverlies is maklik oorkombaar
Moenie toelaat dat gehoorverlies jou lewe versuur nie.
Oom Koos sit buite en lees koerant. Sy vrou Alet, kinders en kleinkinders sit binne om die etenstafel en gesels. Dis Sondag en almal het pas klaar geëet en kuier nou gesellig om die koffiekan.
“Hoekom sit Pa buite,” wil Jacques weet.
Tant Alet tuur voor haar uit voor sy antwoord. “Hy sukkel al hoe meer om ons gesprekke te volg en jy weet hoe hardkoppig hy is. Hy weier om die oudioloog te besoek om sy gehoor te laat toets.”
“Maar hoekom Ma?” vra Jacques.
“Hy wil nie hê mense moet weet hy sukkel om te hoor nie,” sê Tant Alet. Hy sê net ou mense dra ‘oortjies’ en hy is nie oud of doof nie. Daarom sonder hy hom eerder af as om gekonfronteer te word met die situasie.”
Vandag se gehoorapparate is minder opsigtelik
Oom Koos is een van talle mense wat weerstand bied teen gehoorapparate. Mense met gehoorverlies se selfbeeld en selfvertroue kan skade ly omdat hulle meen mense sien neer op hulle weens hul ‘gebrek’. Daarom stel hulle uit om ‘n oudioloog te besoek.
Wêreldwyd is daar meer as 500 miljoen mense wat gehoorverlies ervaar. Navorsing toon dat mense gemiddeld sewe jaar wag, vandat hulle merk dat hul gehoor versleg, tot hulle hulp soek.
Daar bestaan persepsies dat gehoortoestelle groot en duidelik sigbaar is. Dit is nie waar nie. Vandag se gehoorapparate is minder opsigtelik as ouer modelle. Sommiges is so klein dat hulle binne in die gehoorkanaal pas en dus skaars sigbaar is.
Sondag ‘n week later
Jacques het ‘n bietjie navorsing gedoen op die internet.
“Ma weet, ek het ‘n bietjie gaan kyk na watse apparate beskikbaar is vir mense wat aan gehoorverlies ly. Danksy die jongste tegnologie, is daar nou gehoortoestelle wat spesifiek ontwerp word vir die gebruiker. Die goed raak net al hoe ‘slimmer’. Kom ek wys vir ma op my tablet.”
Gehoorapparate: 3 Basiese style
‘n Gehoorapparaat is n klein elektroniese toestel wat binne in of agter die oor gedra word. Dit maak sekere klanke harder sodat ‘n persoon met gehoorverlies in staat is om te luister, kommunikeer en deel te neem aan daaglikse aktiwiteite. ‘n Gehoortoestel kan mense help om meer te hoor in stil sowel as raserige situasies.
Daar is drie basiese style in gehoorapparate. Die toestelle verskil in grootte, hul plasing op of binne in die oor, en die graad waartoe klank versterk word.
1. Buite-die-oor-toestelle (BTE) bestaan uit n harde plastiekhouer wat agter die oor gedra word en wat gekoppel is aan ‘n plastiekoorvorm wat binne in die buite-oor pas.
2. In-die-oorgehoortoestelle (ITE) pas geheel en al binne in die buite-oor en word gebruik vir ligte tot ernstige gehoorverlies.
3. Kanaaltoestelle pas in die oorkanaal en is beskikbaar in twee style. Die in-die-kanaal (ITC) gehoortoestel word gemaak om die grootte en vorm van ‘n person se oorkanaal te pas.
‘n Gehoorapparaat wat geheel en al in die oorkanaal pas (CIC) is byna volledig versteek in die oorkanaal. Albei soorte word vir ligte tot matig ernstige gehoorverlies gebruik.
Om ‘n oudioloog te besoek kan ‘n groot stap wees, maar dit is ‘n besluit wat ‘n beduidende verskil aan die gehalte van jou lewe sal maak.
Gehoorverlies word met oudword geassosieer, maar mense van alle ouderdomme word daardeur geraak.