Tuindiensvullis se opruiming nou weer klopdisselboom

Die metro se stortingsterrein in 26ste Straat in Alphen Park is nou weer bruikbaar nadat die opgehoopte vullis verwerk en weggery is.

Eienaars van tuindienste-maatskappye wat die vullisverwyderingsterrein in 26ste Straat in Ashlea Gardens in Pretoria-oos gebruik, is in hul noppies met hoé opgehoopte vullis na die onwettige staking van verlede jaar deur die metro vanaf die terrein opgeruim is.

Tydens die staking verlede jaar het moedelose inwoners in die omgewing ook die terrein gebruik om van gewone huisvullis in swart sakke ontslae te raak.

Die area rondom die terrein, soos die sypaadjies en ’n parkeerterrein, het vir weke vol vullis en sakke gestaan.

Hierdie situasie het tot klagtes van woonstelbewoners, ouers van leerders van skole in die omgewing en besighede gelei.

Wykraadslid Siobhan Muller sê sy is trots op hoe die span saamgestaan het om met die regte masjinerie, aangestelde kontrakteurs, ekstra hande en ’n doelgerigtheid te sorg dat die terrein weer skoon en bruikbaar kan wees.

“Die laaste paar jaar by die terrein was moeilik. Ons het nie altyd die samewerking gehad van al die gebruikers nie. Na die staking en die opeenhoping van tuin- sowel as huisvullis, het die werk vir die personeel meer as verdubbel. Almal was vir ’n ruk oorweldig,” sê Muller.

Sy meld dat twee van die redes vir die terrein se oormatige gebruik tydens en voor die staking is die sluiting van die metro se Delmaspad-vullisstortingsterrein, sowel as die aansienlike uitbreiding van woonbuurte in die ooste van Pretoria.

“Ek is bly indien die tuindienste se bestuurders nou meer tevrede is want ons moet met mekaar hande hieroor kan vat,” voel Muller.

Sy meen die samewerking van veral tuinklubs asook die tuindienste-maatskappye gedurende die staking was merkwaardig.

“Hulle het gehelp deur nie tuinvullis te bring nie en selfs daarna was hul bydrae fantasties om te help met die verwydering na ander metro-terreine om te help dat die probleem opgelos word,” verduidelik Muller.

Sy voel dat daar nog veel rondom die parkeerterrein langs die terrein gedoen kan word.

Een van die metro se oplossings was die inwerkingstelling van ’n hek by die ingang vanaf die straat.

Gebruikers van die terrein sal nou nie meer in die toegangspad vanaf die straat na die terrein kan vullis agterlaat indien die hek na die terrein gesluit is nie.

“Dit help ook dat die nodige masjienerie soos die vullis-opkappingsmasjien nou beskikbaar is om die tuinvullis te verwerk. Sodat die takke en stompe sowel as blare en gras in ’n verwerkte toestand vanaf die terrein na die groter metroterreine vervoer kan word. Daar word die opgekapte en saamgeperste tuinvullis in kompos omskep vir die metro om in hul tuine en parke te gebruik,” verduidelik Muller.

Mudau Rembuluwani, Edwin Leshabada en Nicholas Mohutsioa Foto: Elize Parker

Die waterlek by die terrein se ingang bemoeilik egter tans nog die toeganklikheid van ’n deel van die terrein.

Die gebarste pyp is reeds aangemeld en ’n span sal dit eersdaags aanspreek, volgens Muller.

Een van die terreinopsigters, Nicholas Mohutsioa, sê dit is belangrik dat die sekuriteit van die terrein prioriteit geniet.

Volgens hom moet daar ook deurlopend opgelet word na die grootte van die voertuie en hul sleepwaens wat tot die terrein toegelaat word om vragte vullis te beperk tot die toegelate maksimum.

Mohutsioa werk al ses jaar by die terrein. Hy meen die sukses van die onlangse reuse-opruiming kan aan goeie beplanning toegeskryf word.

“Ons het vir ’n lang ruk meer as 20 trokke per dag gehad wat die oortollige vullis na die groter verwerkingsterrein in Pretoria-Noord verwyder het. Gewoonweg is daar agt trokke ’n dag wat hiervandaan die verwerkte tuinvullis verwyder,” verduidelik hy.

Mudau Rembuluwani is ook ses jaar aan die metro verbonde en organiseer die tuindienstetrokke en sleepwaens op die terrein sodat sake ordelik verloop.

“Die storting hier werk nou weer soos altyd en soos wat dit moet. Ons moet nou net ons hand daarop hou,” sê Rambuluwani.

Edwin Leshabada is reeds 17 jaar werksaam by die terrein.

“Dis belangrik om toe te sien dat die inwoners in die omgewing wat die terrein gebruik, toegelaat word om hul tuinvullis hier te laat en dat die res van die gebruikers hul permitte wys om wel van die terrein gebruik te maak,” meen Leshabada.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version