Ondersoeker weer op die spoor na oplossings vir raaisels

Wouter Botes kyk in sy nuutste boek na nog 'n paar tergende Suid-Afrikaanse raaisels.

Die vliegtuigwrakondersoeker, skrywer en TV-aanbieder van Pretoria-oos, Wouter Botes, het in sy tweede boek oor onopgeloste raaisels van Suid-Afrika weer die sluier gelig oor ’n aantal raaisels en enigmas.

In die self-gepubliseerde boek, Doodloopspore 2, kyk hy onder meer na hoe sy navorsing lig kan werp op vrae rondom die Birkenhead-skeepsramp in Februarie 1852, die Boksburgmeer se tasmoord en verskeie plekke waar daar glo “bewoners van die donker” oftewel spoke loop soos by die Magersfontein-slagveld.

Die boek is ’n opvolg in Botes se Doodloopspore-reeks. Die eerste boek in die reeks het gefokus op onverklaarde geheime waarvan die besonderhede dalk gedeeltelik bekend was aan lesers.

In die tweede boek skuif die fokus na gevalle wat dalk nie so algemeen bekend is nie.

Botes verduidelik hy het op nog ’n uitgawe besluit omdat die onverklaarde geheime van Suidelike Afrika vir hom ’n boeiende onderwerp bly.

“Daar gebeur daagliks vreemde dinge wat ondersoek moet word. Die stories is nog nie klaar vertel nie,” meen hy.

Die Sammy Marks-huis in Pretoria-oos.

Die ervaring om misgekykte leidrade te vind, prikkel hom veral.

“Daar is nie een geval wat ek ondersoek het waar leidrade nie misgekyk is nie,” vertel Botes.

In hierdie boek staan die raaisel rondom die Gert van Rooyen en Joey Haarhoff-saak vir hom uit.

Van Rooyen was ’n vermeende Suid-Afrikaanse pedofiel en reeksmoordenaar. Hy en sy houvrou, Joey Haarhoff, het na bewering minstens ses jong meisies tussen 1988 en 1989 ontvoer en vermoor in Pretoria en nabye omgewing.

“My ondersoek het heelwat nuwe dinge oopgekrap, en die einde is beslis in sig vir antwoorde,” vertel Botes.

Wouter Botes Foto: Elize Parker

Hy verduidelik hy het besluit om weer die misdaadspoor van Van Rooyen te stap omdat hy nie kon aanvaar dat die meisies soos mis voor die son verdwyn het nie.

“Iewers moes daar leidrade wees wat nog nie raakgesien is nie. Ek het beslis ontdek dat daar inligting was wat uit ’n onafhanklike oogpunt bestudeer moes word. Dalk verras ’n getuie ons binnekort,” sê Botes.

Feite waarop hy in die boek wys wat nie algemeen so bekend is nie, is volgens hom moontlike leidrade. Soos dat Van Rooyen in die tagtigerjare ’n grafgrawer was vir die Ontwikkelingsraad noord van Pretoria.

“Hy het veel hiervan geweet. Hoe moeilik kan dit wees om ’n liggaam onder ’n ander te versteek?”

Hy meen dat familie en vriende van die Van Rooyen-Haarhoff-paar dalk ook nog inligting het wat bekend gemaak kan word.

“Soms ry iemand se gewete hulle bloots tot op ’n punt waar hulle geen ander keuse het as om te onthul wat hulle weet nie. Mag dit binnekort gebeur,” hoop hy.

Joey Haarhoff en Gert van Rooyen Foto: X/RareSApics

Hy sê hy raak nie kwaad of hartseer tydens ondersoeke soos die Van Rooyen-ondersoek nie.

“Ek fokus op ’n onemosionele benadering en dit werk vir my baie goed. Ek is nie kliphard daaroor nie, maar het geleer om my emosies en empatie uit te sluit by ondersoeke,” vertel hy.

“Ek besef hoe geliefdes deur erge trauma moet gaan sonder afsluiting. Ek het met heelwat families van slagoffers te doen gehad in my ondersoeke. Almal stem saam dat afsluiting waar jy ’n geliefde kan begrawe, duisend maal meer hanteerbaar is as om te wag vir ’n vermiste persoon om by die deur in te stap. Dis ongekende pyn,” verduidelik hy.

Met die navorsing rondom Van Rooyen, het hy met heelwat persone gesels en redekawel oor hulle eie siening en hul betrokkenheid by die saak.

“Dis soms nodig om van buite te kyk op ’n kliniese vlak. Dis gewoonlik wanneer jy besef watter leidrade jou in die oë staar. Emosies moet nie ’n rol speel nie, anders verdof dit jou akkuraatheid tydens jou ondersoek,” glo hy.

Botes se visier word ook op die helde in die geskiedenis geplaas.

“Die soldate tydens die sinking van die Birkenhead-skip is vir my helde. Dit was ongelooflik dat hulle deur die hele verloop van die tragedie hulle bevele uitgevoer het sonder enige teenstand. Hulle het sekerlik aan die einde besef dat hulle sal sterf, maar het steeds heldhaftig getrou gebly en vroue en kinders laat oorleef,” vertel hy.

“Ook die man wat die persoon by die Van Stadensrivier- brug tweemaal van ’n selfdood gered het, is ’n held in my oë.”

‘n Afbeelding van ‘n skildery van die Birkenhead-skip wat in Februarie 1852 naby Danger Point in die Overstrand opgebreek het nadat die skip ‘n rots getref en gesink het. Foto: Wikipedia

Botes kyk ook na sogenaamde spookstories om die vraag “Is daar spoke?” as ’n ondersoeker te benader.

Een van die stories waaroor hy navorsing gedoen het, is die Pretoria-entrepreneur Sammy Marks se huis waar daar glo gewaarwordinge van besoekers en gidse was rondom ’n transportryer, John Murray, in die vertrek waarin hy gesterf het.

Murray het vir Sammy Marks met die opvoeding van sy kinders gehelp en vir hom boeke voorgelees.

Botes vertel hy het die eerste keer die verhaal ontdek in Eric Bolsmann se boek Ghosts of Pretoria.

Hy skets in Doodloopspore 2 gebeure rondom verskynings en verdwynings rondom gidse en besoekers se ervarings oor die vertrek waarin Murray gesterf het.

Die woning van Marks, Zwartkoppies Hall, in Pretoria-oos is sedert die laat-tagtigerjare ’n museum.

Botes is ook bekend vir die opspoor van die Rietbok-vliegtuig se wrak naby Oos-Londen in die Oos-Kaap. Die teikendatums vir die herwinning van die Rietbok-wrakstukke tydens die Rietbok-ekspedisie is September vanjaar. Hy sê logistieke rondom die ekspedisie word tans voorberei.

– Kliek hier om ’n video te sien oor die eerste boek in die Doodloopspore-reeks:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 

Exit mobile version