Ma skenk nier aan seun: “Geen opoffering, ‘n uitkoms”

Theresa en Awie Papenfus, ouers van drie seuns, moes telkens struikelblokke oorkom om hul gesin vorentoe te vat, maar het nie gehuiwer om alles te doen om hul gesin te beskerm nie.

Die voormalige joernalis en bekende uitgewer van Litera, Theresa Papenfus, het onlangs haar boekbekendstelling by The Book Keeper Shop behou.

Papenfus het gesels oor die bykans 40 jaar wat sy en haar man, Awie, drie seuns eers in Rietfontein en later in Brooklyn grootgemaak het.

“Voor ons kinders gehad het, het ek gedink dogtertjies sal by my pas. Met die seuns het ek gou besef mens het ’n sekere taaiheid nodig om seuns groot te maak. Jy het nie ruimte om ’n sissie te wees nie,” vertel Papenfus.

Haar boek, Sing, mamma, sing is die verhaal van haar gesin, maar fokus veral op haar en Awie se seun, Braam, se stryd met sy gesondheid van kleintyd tot sy afsterwe in sy laat dertigs.

“Ek het goedjies rondom herinneringe bymekaar gemaak deur die jare en notas en kaartjies gehou. Toe Braam sterf, het ek ’n behoefte gehad om iets van my kind terug te kry. Ek het die onthougoed bo uit die kas gehaal, begin orden en toe begin skryf,” vertel sy.

Braam het op tweejarige ouderdom las gehad van ’n hoë koors. Hul huisdokter het gedink dit was te wyte aan sy mangels. In werklikheid was dit ’n urienweginfeksie wat later in sy lewe tot verskeie gesondheidsprobleme aanleiding sou gee.

“Ek het geweet daar is ernstig fout. By die pediater het ons toe gehoor dit is nie mangels nie. Die infeksie sou hom met ’n nier met beperkte funksie laat,” verduidelik Papenfus.

Die titel van haar boek is afgelei van ’n aand toe hy in die hospitaal was en sy ma vir hom as troos moes sing.

Papenfus het haar gehoor by die bekendstelling, onder leiding van gesprekleier Phyllis Green, vertel van haar seuns se skooljare op laer- en hoërskole in die Moot en Brooklyn.

Die drie seuns het na hul studies Pretoria verlaat. Braam het regte gestudeer, maar moes later as gevolg van erge hoofpyne tydens sy loopbaan ’n nieroorplanting ondergaan.

Papenfus was die skenker van die nier. In September 2021 het die Papenfusse die 15-jarige herdenking van die nieroorplanting gevier.

“Ek het nooit daaraan gedink as ’n opoffering nie. Vir my was dit ’n uitkoms. Hier was uiteindelik ’n plan om hom te help het ek gevoel,” vertel sy.

Die medikasie wat na die oorplanting gebruik moes word, het ’n hoë prys van Braam geëis en sou mettertyd een van die oorsake van kanker word.

Verskeie kankergroeisels, soos ’n melanoom aan sy kop, moes tydens sy kankerstryd uitgesny word.

Papenfus vertel aangedaan en skryf ook oor die tyd toe hulle van die kankerdiagnose gehoor het, asook hoe hulle en die res van die gesin en vriende hierdie pad saam met Braam sou stap.

Vele van sy vriende en kennisse het ’n bidgroep, Bid vir Braam, begin en hom en die gesin tydens die gesondheidstryd op die manier per WhatsApp ondersteun.

Awie en Theresa Papenfus

Die Papenfusse sou mettertyd na die Wes-Kaap verhuis. Braam het tydens die pandemie ook Kaap toe getrek na sy egskeiding.

Ten spyte van gevorderde fases van sy kanker het hy bly werk, sy liefde vir die see uitgeleef deur aan te hou duik en ’n internetwinkel met jaggereedskap te koop, bedryf.

’n Belofte wat sy tydens Braam se siekte van God gekry het, het Papenfus staande gehou.

“Na Braam se afsterwe, het ek gewonder waarom die belofte nie gerealiseer het nie en hoekom Braam nie bly lewe het nie. Verlies het ons gesin geleer daar is wel ’n nalatenskap, en dit is die wete van hoe belangrik die liefde vir mekaar is en altyd sal bly.”

Sing, Mamma sing word deur Litera Uitgewers uitgegee. Meer besonderhede kan op www.litera.co.za gevind word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version