Waterverbruik hoër as aanbod

Die metro waarsku inwoners dat Vlak 2 of selfs hoër waterbeperkings ingestel sal word indien hul aanhou om water teen hierdie tempo te verbruik, wat finansiële implikasies vir verbruikers inhou.

Tshwane inwoners is steeds besig om waterbeperkings teen ’n kommerwekkende tempo te ignoreer, afgesien van die herhaalde beroep vanaf die metro en

Rand Water om hul verbruik te verminder.

Luidens Tshwane woordvoerder Lindela Mashigo, is die huidige waterverbruikspatroon vir Tshwane ’n bron van toenemende kommer aangesien dit ’n opwaartse neiging toon, selfs al is Vlak 1 beperkings in plek.

Mashigo waarsku dat indien die huidige verbruikspraktyk nie verander nie, die metro voor die deur die waterbeperking na Vlak 2 of selfs hoër sal aanpas, wat finansiële implikasies inhou vir verbruikers.

“Die implementering van verskeie beperkingsvlakke is bedoel om die uitputting van die watertoevoer te vermy,” sê Mashigo.

“Beamptes het die verordening en beperkingstoepassing met die Tshwane Metro Polisiedepartment (TMPD) bespreek.”

Die metro doen ’n beroep op inwoners om water spaarsaam te gebruik.

Hierdie vermaning word genoodsaak deur ’n beduidende afname in waterbergingsvlakke oor Gauteng, wat hoofsaaklik te wyte is aan munisipaliteite wat hul toegekende volumes oorskry.

Rand Water het ’n streng waarskuwing uitgereik, waar dit inwoners maan dat versuiming om verbruik te verminder en lekke en onwettige konneksies te rapporteer na ’n katastrofiese uitputting van waterreserwes sal lei.

Tshwane versoek dat inwoners by Vlak 1-waterbeperkings hou deur die volgende toe te pas:

– Moenie tuine met ’n tuinslang of besproeiingstelsel tussen 06:00 en 18:00 natmaak nie.

– Moenie ’n tuinslang gebruik om opritte of patios mee skoon te maak nie.

– Moenie voertuie met ’n tuinslang was nie.

– Moenie swembaddens of waterfonteine volmaak nie.

Mashigo sê dat watervlakke by reservoirs steeds daal alhoewel dié beperkings in plek is.

Hy het die vorige week aangekondig dat alle munisipale swembaddens as gevolg van Vlak 1-waterbeperkings gesluit is.

Die swembaddens sal eers weer operasioneel word as Rand Water Tshwane se waterbeperkings ophef.

“’n Geskrewe instruksie wat 24 Oktober gedateer is, is aan alle streke gestuur wat alle swembad-aktiwiteite by munisipale geriewe onmiddellik staak tot verdere kennisgewing.”

Luidens Mashigo, het die metro programme in plek om inwoners oor waterbesparing en waarneming van beperkings op te voed.

Hy sê hulle voer opvoedkundige en -bewusmakingsveldtogte uit by skole en deur gemeenskapsbewuswording om inwoners op te voed oor die belang van waterbesparing en die behoefte om aan die beperkings te voldoen.

“Ons het ook ’n pypvervangingsprogram daar gestel om ou infrastruktuur en hoë druk aan te spreek, wat die hoofoorsake van waterlekke is.

“Die impak van hierdie pogings word waargeneem in die vermindering van nie-inkomste water met 0.4% van 34.4% na 34.0% in die eerste kwartaal van die 2024/25 finansiële jaar,” sê hy.

Mashigo voeg by dat die metro nouliks met Rand Water saamwerk om ’n gekoördineerde benadering tot die bestuur van waterbronne te verseker en om beperkings af te dwing.

“’n Memorandum van verstandhouding is tussen die stad en Rand Water aangegaan om saam te werk aan waterbesparing en -aanvraagbestuur.”

Tshwane-woordvoerder Selby Bokaba het aan Rekord gesê dat die metro 18% meer water trek as waarvoor dit gelisensiëer is, en dat die reservoirvlakke steeds drasties daal omdat inwoners die beroep ignoreer om water spaarsamig te gebruik.

Bokaba sê dat die situasie ondraaglik word.

Hy voeg by dat die metro die pleidooi aan alle kliënte herhaal om radikaal hul waterverbruik te verminder aangesien die vlakke by sommige reservoirs kommerwekkend gedaal het.

Tshwane se waterlisensie laat dit toe om 662 miljoen liter per dag van Rand Water te trek maar dit trek tans 800 miljoen – ongeveer 18% meer as wat toegelaat word.

Die metro het tot dusver sommige van die hoogste-verbruikende reservoirs en een pompstasie geïdentifiseer.

Bokaba sê dat verbruikers wat deur hierdie reservoirs en die pompstasie voorsien word die hoofbydraers tot die algehele hoë verbruik binne Tshwane is.

Die Mooikloofrif-pompstasie, wat direk deur die Rand Water-sisteem voorsien word, ervaar tans ’n geweldige hoë aanvraag, wat die hoogsliggende gebiede met lae druk laat.

“Ander reservoirs wat onder druk is sluit in Mabopane, Atteridgeville, Hammanskraal, Soshanguve, Mooikloof, Akasia, Constantia en Lotus.”

Die metro het ook op sy Facebook-bladsy aangekondig dat die Rand Water Hartebeeshoek reservoir, wat die Soshanguve L-sisteem voorsien, laag is.

Luidens dié aankondiging, het dit ’n direkte impak op Soshanguve L, wat die metro se mees sensitiewe sone is.

Makenosi Maroo, Rand Water-woordvoerder, het Rekord vertel dat dit nie vir Rand Water nodig is om water vanuit die Sterkfonteindam te trek nie, aangesien die Vaalriviersisteem voldoende water het.

“Die Vaaldam het tans voldoende waterbronne om normale toevoer aan munisipale Rand Water-kliënte te voorsien,” sê Maroo.

Die vlak van die Vaaldam het intussen met 15.5 persentasiepunte oor net 11 weke getuimel.

Die dam was twee weke terug by 30.8% van sy volle stoorkapasiteit van 2.5 miljard kubieke meter.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

Exit mobile version