Sprankelende romantiese musiekblyspel wen harte

Die verhoogproduksie van Semi-soet -Die Musiekblyspel by die AfriForum-teater gee die geliefde Afrikaanse film opnuut lewe. Met ’n sterbelaaide rolverdeling, oorspronklike musiek en pittige dialoog, bied hierdie produksie twee ure van pure vermaak en romantiese ontvlugting.

Die verhoogproduksie van Semi-soet – Die musiekblyspel by die AfriForum-teater is ’n guitige en stuitige musiekblyspel wat die geliefde Afrikaanse film opnuut tot lewe bring.

Met ’n sterbelaaide rolverdeling, oorspronklike musiek en pittige dialoog, bied hierdie produksie twee ure van pure vermaak en romantiese ontvlugting.

Anel Alexander keer terug in haar rol as Jaci van Jaarsveld, en haar vertolking is ’n mengsel van sjarme en komiese tydsberekening.

Bobby van Jaarsveld, as die meedoënlose sakeman JP Basson, verras met sy komiese aanvoeling, veral in die onvergeetlike toneel waar hy in ’n Suid-Afrikaanse vlag-Speedo a la Faf de Klerk verskyn, wat die gehoor ietwat na hul asems laat snak het.

Die storielyn is ’n tipiese moderne liefdesverhaal wat staat maak op misverstand na misverstand met kinkels in talle kabels.

Die hoofkarakter Jaci van Jaarsveld betaal sakeman JP Basson sodat hy as haar kamtige verloofde saam met haar op ’n werksreis vertrek na die Boland.
Ondertussen is hy inderwaarheid die toekomstige koper van die advertensiemaatskappy waarvoor sy werk. Hy voorsien dat hy die rol kan inneem as “verloofde” om die maatskappy as erg en meedoënlose sakeman te ondergrawe.

Anel Alexander en Bobby van Jaarsveld lei die dans-ensemble.

Die produksie spog met 16 oorspronklike liedjies, geskryf deur die talentvolle duo Johan Vorster en Jacomien de Wet.

Liedjies soos “Die bietjie wat ek weet” en “Platgeslaan” is hoogtepunte waar die gehoor dawerend applous gelewer het.

Vorster het die oorspronklike teks van die film, geskryf deur Sandra Vaughn, Anel en James Alexander, knap aangepas om meer as twee ure se vermaak aan die gehoor te verskaf met veral komedie wat die storielyn ook op die verhoog aandryf.

Sy musikale samewerking met De Wet sorg vir ’n wye verskeidenheid liedjies met die “Semi-soet”-temalied as hoogtepunt en “Boudpars” as ’n skreeusnaakse liedjie. Die komieklike choreografie rondom hierdie liedjie, met die in-en-uitklim uit wynvate, het veel energie van die ensemble geverg.

Johan Scholtz (voor) tydens ‘n ensemble-vertolking van ‘n liedjie op die wynplaas Vrede en Lust.

Van Jaarsveld toon hy weet nie net om sy teenwoordigheid op die verhoog te laat geld as sanger nie, maar ook as iemand wat ’n blyspelrol sy eie kan maak. Dit help natuurlik ook dat die netjiese pakke wat hy dra as JP Basson, sakeman, se baadjies in die Daniel Craig-styl effens korter as tradisionele baadjies is en sy bates tot hul reg laat kom.

Alexander was vooraf bekommerd oor haar sang omdat sy 20 jaar gelede laas op die verhoog was en sedertdien haarself in talle ander velde, veral die van die filmbedryf laat geld het. Sy hoef haar nie verder te bekommer nie. Haar vertolkings van die hartseer liedjie “Platgeslaan” sal mens graag die musiekstroomdienste laat deursoek om die liedjie oor ’n heldin in liefde verlore en verlate, te vind.

Die choreografie, onder leiding van Phillip Schnetler, is dinamies en voeg ’n energieke dimensie toe tot die produksie. Dis veral die veelsysige aard van die spelers wat Schnetler toegelaat het om verbeeldingryk deurlopend van die volle ensemble gebruik te maak.

Die knap byspelers dra by tot die sukses van die produksie. Révan Luüs en Zöricke Snyman, as die hoofkarakters se beste vriende, bring humor en warmte na die verhoog en laat met karaktervolle vertolkings die teks se subintriges tot sy reg kom.

Nadia Beukes se vertolking van die hoof van die advertensie-agentskap is min of meer in die lyn van die bitsige Miranda Priestley in die film, The Devil wears Prada, terwyl Schnetler as Fernando die gehoor bekoor met sy komiese flair. Sy onverwagte toetrede op ’n skopbromfiets, waarmee hy deur die gehoor sy weg na die verhoog vind en netjies vir Van Jaarsveld daarop wegry, vat om gedoen te word in ’n vol teater.

Johan Vorster en Jacomien de Wet

Die produksiekwaliteit het een of twee eerste vertoningshaakplekke gewys met die regie deur Jannes Erasmus wat dalk net knapper kan wees met vinniger toegange deur spelers van die syverhoog.

Die rol van die Boere-kugel wat die eks van die vroue hoofkarakter na die Boland moet vergesel om ’n goeie indruk te maak en familie-waardes as fokus van hul verhouding oor te dra, word effe te melodramaties vertolk deur Marcelle Peach. Alhoewel die stelinkleding rondom haar rol veel spasie toelaat vir die tipiese komiese situasies rondom so ’n karakter, word die stereotipe-elemente soos stadmeisie-gaan-plaas-toe, net effe oorspeel.

Anel Alexander en die dansensemble.

Die kostumering deur Suna Roberts is stylvol en gepas met veral die vroue-spelers wat in kleurvolle, gemaklike dansrokke en skoene hul goed van hul taak kon kwyt.

Die produksie slaag daarin om die romantiese komedie-elemente van die oorspronklike film te behou, terwyl die lirieke en melodieë vir ’n wyle na die opvoering nog in jou kop draai.

Semi-soet – die musiekblyspel is ’n heerlike teaterervaring wat die perfekte balans tussen romanse, humor en musiek tref. Dit is ’n moet-sien vir aanhangers van die oorspronklike film en vir enigeen wat op soek is na ’n aand van ligte, vermaaklike teater.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

Exit mobile version