News

Hoofstad skitter met 12 finaliste by skoolkoorkompetisie

Die finaliste verteenwoordig laer- en hoërskole oor verskeie kategorieë in een van Suid-Afrika se voorste skoolkoorkompetisies.

Pretoria se skoolkore het vanjaar besonder goed gevaar met 12 skole uit die hoofstad wat deurgedring het na die finaal van die ATKV-Applous-skoolkoorkompetisie wat van 29 Julie tot 1 Augustus in die Kaapstadse Stadsaal aangebied word.

Die Pretoria-finaliste is Laerskool Constantiapark, Lesedi Primary School, Laerskool Elarduspark, Cornwall Hill College, Hoërskool Akasia, Hoërskool Zwartkop, Rietondale High School, Die Hoërskool Menlopark, Hoërskool Waterkloof, Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretori, Pretoria High School for Girls en Afrikaanse Hoër Seunskool.

Die landswye kompetisie is die oudste skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika en word vanjaar vir die 49ste keer aangebied.

Altesaam 314 kore wat meer as 22 000 hoër- en laerskoolleerders verteenwoordig, het vir vanjaar se kompetisie ingeskryf.

Die kultuurorganisasie se span, vergesel van ’n afvaardiging van Suid-Afrika se mees gesaghebbende koorbeoordelaars, het gedurende Mei na 18 bestemmings regoor die land gereis om die topkore vir die nasionale finaal te identifiseer.

Die Hoërskool Menlopark koor. Foto: Facebook

Die span sou die eerste naweek van Junie ook Namibië besoek om finaliste daar aan te wys.

Onder die laerskoolkategorieë het Laerskool Constantiapark deurgedring na die Meriete-afdeling vir Afrikaanse kore. In die Meriete-afdeling vir nie-Afrikaanse kore het Lesedi Primary School van Soshanguve sy plek in die finaal verseker. Laerskool Elarduspark sal meeding in die Prestige-afdeling vir laerskole.

Pretoria se hoërskole het sterk verteenwoordiging in die Meriete Gemeng-kategorie, waar Cornwall Hill College, Hoërskool Akasia, Hoërskool Zwartkop en Rietondale High School onder die finaliste tel.

In die Prestige Gemeng-afdeling het Die Hoërskool Menlopark en Hoërskool Waterkloof hul plekke in die finaal bespreek, terwyl Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria in die Prestige Meisies-kategorie sal deelneem.

Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria. Foto: Facebook

Pretoria High School for Girls sal in die Hoërskole se Ope Afdeling deelneem.

Afrikaanse Hoër Seunskool voltooi die hoofstad se indrukwekkende lys finaliste as deelnemer in die Prestige Seuns-afdeling.

Gisela de Villiers, beoordelaar van die landswye streeksfeeste, sê: “Ek is jaarliks verstom oor hoe die standaard van Suid-Afrikaanse skoolkore verbeter.”

De Villiers is vas oortuig dat die kore enige dag op die wêreldverhoog sal kan meeding.

Die finaal strek oor vier dae en bring van Suid-Afrika en Namibië se voorste skoolkore byeen vir een van die belangrikste gebeurtenisse op die land se koorkalender.

LEES: Young voices take centre stage at choir festival

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button