Legendariese Daantjie van der Walt (90) oorlede

Een van die grootste legendes van klubrugby in Pretoria, wat ’n aktiewe rugbyloopbaan van 75 jaar gehad het, is Maandagoggend op die rype oudedom van 90 oorlede.

Een van die groot legendes van klubrugby in Pretoria, Daantjie van der Walt, is Maandag oggend op 90-jarige ouderdom oorlede.

Ná ’n maandelange stryd met gordelroos het sy gesondheid die afgelope tyd drasties agteruitgegaan en hy is verlede week met verskeie komplikasies in die hospitaal opgeneem.

Oom Daanjie, soos hy algemeen bekend was, het ’n baie unieke rugbyloopbaan gehad, wat oor sowat 75 jaar gestrek het. As aktiewe speler tot op die ouderdom van 85 het hy nie net die rekord gehou as Suid-Afrika se oudste geregistreerde rugbyspeler nie, maar hy was ook een van die oudstes ter wêreld.

Van der Walt het as jong seun by die Laerskool Wonderboom-Suid in Pretoria sy eerste rugbywedstryd gespeel. Na skool het hy by die destydse Innesdal rugbyklub aangesluit. Dié klub het later Adelaars geword en deesdae staan hulle as die Naka Bulle bekend. Dit is waar hy tot net voor die Covid krisis van 2020 nog as 85-jarige veteraan vir die klub se “Goue Oues” uitdraf het.

Daantjie van der Walt het aktief rugby gespeel tot op die ouderdom van 85 en hy het jaarliks saam met Naka Bulle se ‘Goue Oues’ aan die nasionale toernooi deelgeneem.
Foto: Verskaf

In 1960 is hy as jongeling uitgenooi na die destydse Noord-Transvaal se proewe. Hy het dié dag só beïndruk met sy spoed en vaardighede dat agente van beroepsrugby hom ’n reuse aanbod gemaak het om in Brittanje vir die beroepsrugbyklub, Halifax, te gaan speel. In daardie selfde tyd het ’n ander beroepsliga-klub die beroemde Tom van Vollenhoven na Engeland gelok.

Van der Walt het egter voor ’n baie moeilike keuse te staan gekom. As hy oorsee gaan speel het, sou hy die kans verbeur om sy pa se besigheid as boorman oor te neem. Hy het gekies om in Suid-Afrika te bly en dié besigheid was uiteindelik vir 80 jaar (drie geslagte) deel van die familie. Hy het later vir verskeie rugbyklubs én vir die Blou Bulle boorgate gesink, waaruit hul sportvelde vandag nog besproei word.

Hoewel hy die Britse aanbod van die hand gewys het, het die plaaslike beroepsrugby manne hom opgeraap en Van der Walt het in Suid-Afrika beroepsrugby gespeel. Die beroepskode was daardie jare baie bedrywig hier plaaslik en hy het vir die Pretoriase ‘Koedoes’ uitgedraf.

As speler van ouer as 80 het Van der Walt tydens wedstryde ‘n spesiale kleur broek gedra, wat aan ander spelers aangedui het dat hy nie met volle mening gelak mag word nie.
Foto: Verskaf

In 1962 het hy vir die nasionale rugbyliga-span teen Engeland uitgedraf en in daardie wedstryd die heel eerste drie in ’n beroepsrugby toets in Suid-Afrika gedruk. Hy was later ook die top driedrukker in Suid-Afrikaanse beroepsrugby.

Ná sy beroepsloopbaan in Suid-Afrika het Van der Walt met ’n groot gesukkel by die amateurkode toestemming gekry om weer gewone klubrugby te speel, op voorwaarde dat hy nie hoër as die derdespan van ’n klub mag speel nie. In 1967 stig hy toe die “Boepensspan” by Adelaars. Hulle het later die “Golden Oldies” geword en hy het uiteindelik sowat 50 jaar lank vir dié span uitgedraf.

’n Onlangse foto van Daantjie van der Walt saam met die Suid-Afrikaanse Olimpiese gewigstoot-atleet, Burger Lambrechts.
Foto: Jan Beekhof

In 1974 het hy spesiale vergunning gekry om in Frik du Preez se “vaarwel” wedstryd op Loftus Versfeld te speel.

In 1984 het Van der Walt op 51-jarige ouderdom as beampte saam met Adelaars in Suid-Amerika getoer. Toe hulle in die wedstryd teen Chili ’n vleuel kort, was hy beskikbaar en so het hy op dié rype ouderdom weer “onwettig” vir Adelaar se eerstespan uitgedraf.

Naas sy rugbyprestasies was hy ook ’n veelsydige sportman. Hy het in 1966 provinsiale sokker vir Noord-Transvaal gespeel en hy was boonop ’n bekende gesig by meesters-atletiek, waar hy as naelloper uitblink het.

Van der Walt word oorleef deur sy vrou, Joyce, vyf kinders, agt kleinkinders en vyf agter-kleinkinders.

Sy begrafnis sal plaasvind op 31 Mei om 11:00 vanuit die Nederduits Gereformeerde Kerk, Blakestraat 125, Riviera, Pretoria.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version