Nog drie aanlyn konserte vir die Voortrekkermonument

Danie du Toit, hoofsanger van Spoegwolf, sê dié groep is baie opgewonde om deel te wees van die konsert.

Ná die reusesukses van die eerste virtuele Hier staan ons-konsert op die vooraansig van die Voortrekkermonument, kan kykers nou uitsien na nóg drie konserte.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het op 16 Junie vanjaar die eerste konsert in dié reeks aanlyn konserte met Jak de Priester as gasheer en Steve Hofmeyr as sy eerste gas aangebied om die dag te gedenk waarop die verskroeideaardebeleid ten tyde van die Anglo-Boereoorlog aangekondig is.

Op 18 Julie kom Spoegwolf aan die beurt.

Danie du Toit, hoofsanger van Spoegwolf, sê dié groep is baie opgewonde om deel te wees van die konsert.

“Dit gaan ons eerste groot show in ’n baie lang tyd wees,” sê hy.

“Die Spoegwolf-masjien het nodig om weer te loop. Ons kan nie wag nie. Ons gaan ’n hele paar liedjies vir die eerste keer ooit speel.

“Ons gaan die Voortrekkermonument afbreek en weer herbou,” het Du Toit tong in die kies oor die konsert gesê.

Die FAK en De Priester het hande gevat om dié reeks aanlyn konserte aan te bied om die land se monumente te help beskerm deur kaartjieverkope.

Met elke konsert sal De Priester ’n ander gas verwelkom.

Die Voortrekkermonument sal elke keer as venue gebruik word vir die konserte en uiteindelik sal ’n skare self na die konserte kan kom kyk sodra die inperkingsregulasies opgehef is.

“Covid-19 het ons gewys dat bakens, besighede, tydskrifte, wat ons hele lewe nog saam met ons was, skielik net nie meer daar is nie,” sê De Priester.

“Ons erfenisterreine en monumente staar presies dieselfde gevaar in die oë,” sê hy.

“Kan jy jouself voorstel: ’n Pretoria sonder ’n werkende Voortrekkermonument of die Paarl sonder die lieflike Taalmonument of Bloemfontein sonder die Vrouemonument?”

Die FAK het onlangs as deel van sy geskiedenisfonds ’n omvattende hulpprogram ter ondersteuning van Afrikanermonumente bekendgestel om hulle finansiële oorlewing te midde van die Covid-pandemie te verseker.

Danie Langner, besturende direkteur van die FAK sê monumente is ’n “inspirasieplekke wat ons sigbaar herinner aan die vele uitdagings wat ons voorgeslagte met onderskeiding te bowe gekom het”.

“Elke monument wat deure moet sluit, is nie net ’n langtermynverlies vir Afrikaners se kultuurhistoriese erfenis nie, maar ’n kultuurhistoriese ramp.”

Hy sê die Voortrekkermonument in Pretoria is een van die instellings op die FAK se prioriteitslys.

“Weens die verlies aan toerisme-inkomste omrede die nasionale staat van inperking is dié instelling een van die plekke wat moontlik sy deure kan sluit,” sê hy.

Eeienaar van Xtreme Productions Joe Engels, wat hierdie konserte moontlik maak, verduidelik dat die Voortrekkermonument self as skerm dien vir dié konserte.

“Konserte is oor die jare heen by al die verskeie terreine en selfs voor die trappe van die Voortrekkermonument aangebied, maar nog nooit op dié monument self lewensgroot vertoon nie,” sê hy.

“Dié monument is 1 600 vierkante meter groot en 42m hoog. Dit is gróót. Die hele Pretoria sal dit kan sien.”

Engels verduidelik dat twee enorme projektors die beeld op die monument projekteer, terwyl sowat sewe kameras, waaronder ook hommeltuie, die konsert afneem en nog drie kameras wat die projeksiegedeelte doen.

De Priester gesels met sy gaste op ’n verhoog wat by die Vrouebeeld by die ingang van die Voortrekkermonument opgestel is.

Hy en sy gaste sing ook van hulle bekendste liedjies tydens elke konsert.

Corlea Botha, Nianell en Monique Steyn sal op Vrouedag (9 Augustus) hulle buiging op De Priester se verhoog maak. Hy beskryf hul stemme as “drie van die mooiste vrouestemme in Suid-Afrika”.

Op 13 September sal Jannie Moolman, volgens De Priester, “na sy opera- en klassieke musiekwortels terugkeer” as sy vierde gas in die Hier staan ons-konsertreeks.

Kaartjies kos R60. Jy kan ook vir R150 na al drie konserte kyk. Kaartjies is beskikbaar by www.ticketslive.co.za en www.plankton.mobi.

Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button