Local NewsNews

Alex se toweraand

Alex van Dyk was sprakeloos en bewoë nadat hy gehoor het dat hy 'n prostese van Jumping Kids kry.

POLOKWANE – “Eish, ek weet nie wat om te sê nie.”

Alex van Dyk was sprakeloos en bewoë nadat hy gehoor het dat hy ‘n prostese van Jumping Kids kry.

Dié gr. 12-leerder van Hoërskool Pietersburg (PHS) het beide sy bene na ‘n motorfietsongeluk in April verloor.

Tot nou toe het hy gebruik gemaak van ‘n rolstoel, maar te danke aan Jumping Kids, kan hy weer loop.

“Ek weet regtig nie wat om te sê nie, maar ek is vreeslik bly en opgewonde,” het hy Vrydagmiddag by BB Auto, waar deelnemers aan die Celeb Cycle Tour bymekaargekom het, gesê.

Jumping Kids is ‘n organisasie wat in 2009 ontstaan het.

Die organisasie is begin deur Johan Snyders wat daarvan gedroom het om prostese aan kinders sonder bene te gee. Jumping Kids is ‘n geregistreerde organisasie sonder winsbejag.

Om geld in te samel het Jumping Kids ‘n fietstoer gereël waarin 11 bekendes in die sport- en musiekwêreld ‘n afstand van 1000 km per fiets afgelê het.

Die groep, wat bestaan het uit Arno Botha, Arnu Fourie, Breyten Paulse, Dane Wilson, FA Meiring, Helgard Muller, Izak Davel, LJ van Zyl, Reuben van Niekerk, Vlok Cilliers en Wynie Strydom, het op 11 November by die Meerhof Skool in Hartebeespoort weggespring en Vrydag in Polokwane aangekom.

Na bladsy 2

“Ek het bewus geword van die uitdagings wat kinders met prostese in die gesig staar nadat my stiefseun sy been in ‘n bootongeluk verloor het. Ek weet ook watter verskil prostese wat reg pas in iemand met prostese se lewe kan maak,” het Vlok Cilliers, bekende rugbyafrigter, vertel.

Volgens Snyders is sport baie belangrik in ‘n kind se lewe. “Elke kind het ‘n held nodig en kinders moet kan droom. Jumping kids help net om drome te bewaarheid.”

Arnu Fourie, ‘n paralimpiese atleet, het vertel dat die toer vir hom ook baie beteken het. “Deur die toer skep ons bewusmaking en samel geld in, maar wanneer ons sien hoeveel mense se harte ons aanraak dat dit die moeite werd raak.”

Arnu was self in gr. 12 toe hy sy been in ‘n motorbootongeluk verloor het. “Ek kan vir Alex sê dat dit nie die einde van die wêreld is nie. Ek was self vir ‘n paar jaar lank baie negatief, maar besef nou dat dit nie die einde van die wêreld was nie.”

Emile Burgers (10) en Ntando Mahlangu (11) loop beide ook met prostese en het ook die toer meegemaak.

Die toer is afgesluit met ‘n spesiale opname van Toks en Tjops vir KykNet by PHS Vrydag. Tydens dié regstreekse uitsending van die program het Alex die geleentheid gehad om met sy nuwe prostese op die verhoog te verskyn as een van die gaste op die program.

Ander gaste het ingesluit Riaan Grobler, gewilde sanger wat in Polokwane grootgeword het, Hardus Geldenhuys, PHS se eerste rugbyspankaptein, Vlok Cilliers en Izak Davel, Afrikaanse sanger en akteur. Willie Schoeman, PHS se hoof, het Izak Davel en Riaan Grobler op die kitaar begelei terwyl hulle gesing het.

Breyten Paulse, een van die program se aanbieders, was ook deel van die fietstoer.

“Die kinders wat saam met ons gery het was baie inspirerend. Elke keer wat ek swaargekry het op die fiets, het ek na die kinders gekyk,” het hy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button