Local NewsNews

Inwoners maak self die slaggate toe

Westenburg inwoners het besluit om nie langer te wag vir die Polokwane Munisipaliteit om die slaggate reg te maak nie.

POLOKWANE – Westenburg inwoners het besluit om nie langer te wag vir die Polokwane Munisipaliteit om die slaggate reg te maak nie.

Christina Adams (62) het verlede Donderdagmiddag sand langs die pad opgeskep en in die slaggate in John Smithstraat gegooi.

“Ek het nie ‘n motor nie, maar ek sien hoe die mense se motors seerkry as hulle hier ry en toe besluit ek om sand in die gate te gooi.

“Die sand help net vir ‘n rukkie, want as dit reën dan spoel dit al die sand weg. Maar dit help darem so ‘n bietjie, want die munisipaliteit vat verewig om die gate reg te maak. Nie dat dit veel help as hulle dit kom regmaak nie, want oor ‘n paar dae is dieselfde gat weer oop en nog erger as wat dit eers was,” sê Adams.

Sondagoggend het ‘n paar jongmense van Westenburg besluit om Adams se voorbeeld te volg. Christo Charlie en ses ander het gruis in die strate met die ergste slaggate soos Ben Harris, Whitehead, John Smith en Buysstraat gegooi.

“Die gate is ‘n probleem in ons gemeenskap en as dit reën dan ly motoriste groot skade. Ek wens net die munisipaliteit kan die paaie ordentlik regmaak, sodat die gate permanent toe bly en nie weer na ‘n rukkie oop gaan nie, want die geld wat ‘n mens spandeer om jou motor reg te maak as gevolg van skade, is geld wat mens eerder in die huis kon spandeer,” sê Charlie.

Review het ondersoek ingestel en gevind dat amper elke straat in Westenburg slaggate het en van die paaie so sleg is dat dit amper onrybaar is, veral Johan Smith en Whiteheadstraat.

In Ben Harrisstraat is daar sekere gedeeltes waar motoriste aan die verkeerde kant van die pad moet ry, om te verhoed dat hul voertuie beskadig word.

Munisipale woordvoerder, Matshidiso Mothapo sê onder normale omstandighede is daar ‘n algemene onderhoudskedule vir die regmaak van paaie in die stad. “Maar na die baie reën word daar inspeksies gedoen en werk word volgens verkeersvolumes geprioritiseer,” het hy verduidelik.

Hy het verder gesê dat die reën die afgelope naweek met hul skedule ingemeng het. “Om die paaie vinniger reg te maak, sal ons van meganiese toerusting ook gebruik maak. Die munisipaliteit beplan ook om ‘n program om van die paaie te rehabiliteer te implementeer,” het hy gesê, en bygevoeg het dat ‘n kontrakteur reeds aangestel is.

Enige klagtes oor slaggate kan by (015) 290 2372/73/74 gerapporteer word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button