Local NewsNews

Seksboelies: dreig op internet

'n Afrikaanse hoërskool in die stad het besluit genoeg is genoeg en wil ander skole in die stad waarsku teen internet-seksboelies wat leerders probeer verlei en selfs te dreig om gewaagde foto's aan hulle te stuur.

POLOKWANE – ‘n Afrikaanse hoërskool in die stad het besluit genoeg is genoeg en wil ander skole in die stad waarsku teen internet-seksboelies wat leerders probeer verlei en selfs te dreig om gewaagde foto’s aan hulle te stuur.

Volgens Juanita Marx, berader by Hoërskool Pietersburg (PHS), word leerders, gewoonlik meisies, om die bos gelei deurdat die booswigte hulle oorreed dat hulle potensiaal het om modelle te word. Die eerste kontak word gewoonlik deur Facebook gemaak, waar die meisies uitgenooi word om die seksboelies se vriende te word.

Marx sê die seksboelies stel hulleself voor deur Facebook se gesamentlike vriende-funksie.

Hulle gee voor dat hulle van ‘n bekende modelagantskap is, wat takke in die land se hoofsentra het, en dat hulle die slagoffer se foto gesien het op Facebook.

Die boodskappe word gewoonlik eers in Afrikaans aan die leerders gestuur, maar later word die tale gemeng of Engels gebruik. Die persoon gebruik ook afkortings en tik soos die jongmense deesdae boodskappe stuur.

Die meisies word versoek om ‘n gesigfoto en/of ‘n profielfoto aan te stuur. Dit word gedoen onder groot druk; die meisies word vertel dat hulle haastig is vir die foto omdat die kastige agent dringend ‘n sekere gesig soek vir ‘n produk.

Die meisie word dan vertel die sogenaamde talentsoekers is tevrede, maar dat hulle ‘n foto van haar in ‘n bikini wil sien.

Die meisie word daarna vertel dat sy die ideale gesig vir die produk is en word dan vir ‘n foto waar sy in onderklere poseer gevra, want dit is “maar dieselfde as ‘n baaikostuum.”

As die meisie nie wil nie, word sy dan aangesê om, aangesien sy skaam is, net ‘n naakfoto van haarself van die nek ondertoe, of van haar ontblote borste te stuur, omdat die kastige agente die grootte van haar borste (cup size) wil bepaal.

Indien sy weier om dit te doen, word sy gedreig dat “hulle” die foto’s van haar in byvoorbeeld onderklere op hulle webwerf of op Facebook sal plaas en haar vriende sal laat weet.

Sy word gedreig (“I wanna see boobs”), want teen die tyd het die kontak gewoonlik al meer inligting van haar, soos haar telefoon nommer of WhatsApp of BBM pin omdat sy glo gekontak sou word vir kontrakte.

Hulle dreig haar en soek dan foto’s van sekere privaat liggaamsdele (in kru taal uitgedruk), omdat hulle glo hou van díe dele van “jong meisies.” Sommige van die meisies het nou die afdreiging openbaar gemaak deur met hulle ouers en die skool se berader daaroor te praat.

“Die skool en ouers is baie bekommerd hieroor,” sê Marx. “Die meisies is te skaam om polisie toe te gaan omdat hulle geval het vir die mooi beloftes en bang is hul foto’s word op die internet geplaas. Dit begin heel onskuldig, maar later word hulle gevra of hulle wil hê almal moet hulle op die internet sien. Hulle word ook gevra dat hulle foto’s moet stuur van hulle mooi bene en word vertel dat van hulle vriendinne dit gedoen het, so show me yours.”

Marx is bekommerd dat die voorvalle ook in ander skole voorkom, maar dat dié skole nie ‘n berader het waarheen die meisies kan gaan nie en dat meisies nie die vrymoedigheid het om met hulle ouers of onderwysers daaroor te praat nie.

“Hulle kan dalk die meisies begin agtervolg. Geen mens weet tans waar hulle woon of van waar hulle regtig is nie.”

Marx sê sy is bereid om by ander skole daaroor te gaan praat en leerders te waarsku oor die gevare van hierdie seksboelies. Sy kan by PHS gekontak word.

Review se ondersoek het gewys een van die name wat gebruik is om meisies so uit te lok en dan te dreig, is nou van die internet afgehaal. ‘n Ander naam wat gebruik word, lei na ‘n Facebook-profiel, maar ook na verskeie pornografiese webwerwe met kru foto’s en videos, ook van baie jong meisies.

• Review se ondersoek het ook gewys dat seuns ook nou betrek word deur ‘n persoon wat voorgee dat hy spelers soek om ‘n rugbyspan saam te stel om welsynwedstryde te speel ten bate van kankerlyers. Die naam van die persoon wat hulle kontak, is verskaf deur die seuns, wat eers gevra word om ‘n kaal bolyffoto te stuur om hulle sag te maak. Die profiel bestaan nog op Facebook en dit kan gekoppel word aan onder andere ‘n skole rugby-en krieketafrigter van die Noord Kaap, asook aan twee ander persone.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button