Ma’s inspireer hulle keuses
Vandag (Donderdag) skop Cell C se se 12de jaarlikse Take a Girl Child to Work-veldtog af.
POLOKWANE – Vandag (Donderdag) skop Cell C se se 12de jaarlikse Take a Girl Child to Work-veldtog af.
Dié veldtog is gemik daarop om elke meisie te herinner dat sy die vermoë het om haar drome waar te maak deur in haarself te glo.
Review het met meisies van verskillende ouderdomme gesels om uit te vind wat hulle graag na skool sal wil doen en hoe hul ma’s tans ‘n lewe maak.
Odette Goosen (13) wil graag na skool ‘n geleentheidsbeplanner word. “Dit lyk vir my lekker en jy kry die geleentheid om baie plekke te sien.”
Haar ma is ‘n modeontwerper in die stad en Odette dink dit is ook ‘n goeie werk om te hê. “My ma maak mooi rokke, ook vir my, en dit lyk lekker om so kreatief te wees. Ek sal dit ook wil doen as ek die geleentheid kry,” vertel sy.
Joané van Staden (14) droom groot. “Ek wil graag prosteses maak, dit lyk lekker om kunsledemate vir mense te maak.”
Haar ma is ‘n onderwyser en Joané sê sy sal dit nooit kan of wil doen nie. “‘n Onderwyser moet soms met ongeskikte kinders werk en ek sien nie kans daarvoor nie.”
Ruby Quinn (6) sê eerlik dat sy nog nie weet wat sy eendag wil word nie. “My mamma werk met water en ek weet nie of dit lekker is en of ek dit graag sal wil doen nie,” vertel sy.
Izelke Snyman (14) wil graag ‘n fisioterapeut word. “Ek hou daarvan om mense te masseer,” vertel sy.
Haar ma is ‘n sekretaresse en Izelke kan nie dink dat dit ‘n lekker werk kan wees nie. “Sy werk met geld en moet somme doen; dis nie vir my nie.”
Nicole Blount (14) wil graag ‘n marinebioloog word. “Ek is mal oor dolfyne en as ek ‘n marinebioloog is, kan ek heeldag met dolfyne werk.”
Nicole vertel haar ma is ‘n rekenmeester en dat sy nie daarvan sal hou nie. “Rekenmeesters is heeldag op kantoor en ek sal nie daarvan hou nie. Ek wil eerder in die buitelug werk.”
Maleba Ledwaba (9) weet reeds dat sy eendag mense wil help en ‘n dokter wil word. Haar ma is ook ‘n dokter en dit is waar haar belangstelling in dié beroep vandaan kom.
Abigail Cara Wood (9) is vasbeslote om ‘n diereterapeut te word. “Ek gaan diere help oefen. Ek hou daarvan om met diere te werk, maar nie om hulle te opereer nie, daarom wil ek nie ‘n veearts word nie.”
Haar ma is ‘n boekhouer en Abigail sê dit behels te veel werk.
Mia van Rooyen (5) hou so baie van sing dat sy graag ‘n sanger wil word.
“My gunsteling sanger is Karlien van Jaarsveld. My ma dans vir ‘n lewe en selfs dit lyk lekker. Ek sal dit ook doen.”
Chelsea Geyser (9) droom daarvan om ‘n veearts te word. Haar ma is ‘n ontvangsdame. “Dit lyk ook nogal lekker om kliënte te help soos my ma.”
Layla Beetge (5) weet nou al reeds dat sy ‘n onderwyser wil word. “Dit lyk sommer lekker om ‘n juffrou te wees,” vertel sy.
Verder vertel sy dat haar ma by die hospitaal werk, maar dat dit nie vir haar na lekker werk lyk nie. “Ek wil nie eendag in ‘n hospitaal werk nie.”
Natasha Mothupi (9) droom daarvan om ‘n sjirurg te word. “Ek wil mense help om gesond te word,” vertel sy trots.
“My ma werk in die bank en ek hou daarvan om daarheen te gaan. Dit lyk lekker om daar te werk, ek sal dit ook kan doen.”
Haar maatjie, Lebo Ncube (9), wil ook ‘n dokter word. Sy wil graag mense help wat siek is.
“My ma bou toilette en selfs dit lyk na ‘n lekker werk. Dit lyk lekker om vir arm kinders wat nie toilette het nie, toilette te gee.”
Zanelle Swart (14) wil graag ‘n wildsveearts word. Sy vertel die rede vir haar keuse is dat sy lief is vir diere en die natuur en heeldag in die natuur wil wees. “Ek wil graag wilde diere wat seergekry het rehabiliteer.”
Sy vertel haar ma is ‘n verkoopsverteenwoordiger en dat sy dit nooit sal wil doen nie. “Dit sal beteken ek moet met mense werk en ek wil nie met mense werk nie.”
Haar vriendin Roné Schwim (14) beplan om ‘n kindersielkundige te word.
“Ek wil kinders help, veral dié wat met dwelms deurmekaar is of was. My ma is ‘n boekhouer en ek sal dit nooit kan doen nie. Ek is doodeenvoudig nie goed genoeg met wiskunde nie.”



