Vlooi trek see toe
Die merkwaardige storie van Vlooi, die optelhond wat nou 'n koningslewe in Somerset-Wes lei.
POLOKWANE – Alleen en verdwaald stap ‘n klein Jack Russell in Van Boeschotenstraat af.
Skielik ruik hy die bekende reuk van ander honde en volg sy neus by hondesalon, Hound Dogs and Alley Cats in.
Só begin die merkwaardige storie van Vlooi, die optelhond wat nou ‘n koningslewe in Somerset-Wes lei.
Naomi Jardim, toesighouer van die hondesalon, vertel hoe sy en haar kollegas op en af geloop het om Vlooi se eienaars op te spoor.
“Ons het op en af geloop in die strate met die hond by ons in die hoop dat hy by een van die erwe sal ingaan. Hy het glad nie belang gestel in enigeen van die huise nie,” sê sy.
“Ons het vir Adele Heinlein van die Facebook-blad, Lostandfoundlittlefriends gekontak. Sy sorg vir verlore troeteldiere en soek hulle eienaars of vind vir hulle nuwe huise.”
Adele sê sy het die hond by die hondesalon opgelaai en vir ‘n paar dae lank het hy tydelik by verskillende mense in Polokwane gewoon voordat Jacques Jaekel hom in sy sorg geneem het. “Ek het die hond intussen Fiela Vlooi gedoop, maar Jacques het gevoel Fiela is ‘n meisienaam en die hond is ‘n reun. So het sy naam Vlooi geword,” vertel sy.
Jacques sê Vlooi het vir amper drie weke by hom gewoon voordat Noleen Posthumus van hom te hore gekom het. Noleen sê sy was dadelik verlief op die hond toe sy hom op ‘n Johannesburgse Facebook-blad, Lost and Found, gesien het.
“Vlooi is doof, maar die oulikste ding denkbaar. Hy slaap onder my bed. Ek het twee ander honde en die drie is nog nie goeie vriende nie, maar ek en Vlooi het van die eerste dag af baie goed oor die weg gekom. Ek dink dis omdat ons beide gehoorprobleme het,” verduidelik sy.
Noleen woon in Somerset-Wes en Vlooi se vervoerkoste was ‘n probleem. Adele sê sy het BB Auto genader vir finansiële hulp en Riaan Smit, hoof finansiële bestuurder van BB Auto, en sy span het gesorg dat Vlooi by sy nuwe ma uitkom.
“Dit is vir ons ‘n plesier om te help en, aangesien almal van ons lief is vir diere, sal ons beslis weer help,” sê Riaan. “Ons hoop dat Vlooi gelukkig sal wees by sy nuwe huis.”



