Groot verligting na noue ontkoming
'N Doodgewone oggend op pad om haar kinders by die skool af te laai het vir 'n groot skrik en noue ontkoming gesorg toe die 4x4-motor van die Lombaard-gesin in 'n oogwink met 'n ander gebots en op sy dak beland het.
Foto's: Verskaf
MOKOPANE – ‘N Doodgewone oggend op pad om haar kinders by die skool af te laai het vir ‘n groot skrik en noue ontkoming gesorg toe die 4×4-motor van die Lombaard-gesin in ‘n oogwink met ‘n ander gebots en op sy dak beland het.
Magda Lombaard wat bekend is op die dorp vir haar heerlike gebak, vertel dit is net met genade van Bo dat sy en haar drie kinders Angie (8), Minioné (6) en Migael (4) ongeskonde daarvan afgekom het.
“Daar moet engele wees, want behalwe vir skrape en lyfseer is ons almal in een stuk. Die kinders het na die slag uit die motor geklim en grootoog en geskok kom ondersoek instel of ek nog reg is.
“Groot was my verligting toe ek besef hulle leef en daar is nie ernstige beserings nie.”
Die ongeluk het kort voor 07:00 op die ou pad na die vliegveld, gebeur.
“Ek het juis die pad gery omdat dit ‘n korter roete skool toe is. ‘n Motor het van links gekom en nie by ‘n kruising gestop nie. Die motor het my motor links agter getref. Als het in ‘n oogwink gebeur.”
Magda sê die polisie en ambulansdiens was vinnig op die toneel en verdien ‘n pluimpie vir hulle hulp en belangstelling selfs agterna het hulle moeite gedoen om na ons welstand te verneem.
Haar ouers en familie se bystand word ook waardeer.
Sy sal graag wil sien dat die munisipaliteit werk maak van die lang gras langs die paaie in die deel van die dorp.
Baie mense ry soggens deur die gebied met hul kinders skool toe.





