Local NewsNews

Aretha Tehuis moet verskuif

Aretha Tehuis het tot Desember om 'n nuwe heenkome vir die inwoners te kry.

POLOKWANE – Die bestuur en inwoners van Aretha Tehuis het in Desember verneem dat die eiendom waarin hulle woon, verkoop is en dat hulle dus ander blyplek moet vind.

Die nuwe eienaar sou in Januarie met ontwikkeling begin, dus was daar ‘n paar maande oor om ‘n nuwe, geskikte perseel moes vind.

“Daar is verskeie wetlike aspekte waaraan die huis moet voldoen en alhoewel ons al na ‘n paar moontlike huise gaan kyk het is nie almal geskik nie,” vertel Lizelle Bezuidenhoud, Sekretaresse en Tesourier van die bestuur van Aretha Tehuis.

Aretha Tehuis is in Januarie amptelik as ‘n organisasie sonder winsbejag geregistreer. Die tehuis huisves 21 inwoners, sommiges is verstandelik gestrem en ander fisiek gestrem. Daar is ook inslaappersoneel.

Wetlike aspekte waaraan die nuwe huis moet voldoen sluit in dat die gange ‘n sekere breedte moet wees en dat daar slegs ‘n sekere aantal mense per vierkantemeter (m²) mag woon.

“Ons kyk ook na persele om ‘n nuwe gebou volgens die wetlike aspekte te bou. Ongelukkig het die tehuis nie geld nie, so ons is afhanklik van die goedheid van die gemeenskap. Daar sal hersonering ook moet plaasvind.”

Bezuidenhout vertel dat hulle nie ‘n sorgsentrum is nie, maar slegs ‘n huis waarin gestremde mense woon.

“Alhoewel ons tot Desember het om ‘n nuwe plek te kry, wil ons graag so gou as moontlik een kry. Ons wil egter nie trek en dan oor ‘n maand of twee verneem dat die plek nie vir ons gebruik geskik is nie.

“Dit sal die inwoners, party wie al sedert 2001 by die tehuis woon, baie ontwrig in so ‘n geval,” verduidelik sy.

“Die wet verbied die inwoners om in houthuise te woon. Die nuwe perseel hoef ook nie in die stad te wees nie, dit moet net aan die wetlike vereistes voldoen en groot genoeg vir almal wees.”

Bezuidenhout bedank almal in die gemeenskap vir hulle donasies.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button