Bosveld Intervarsity: Weereens ‘n groot affêre

'n Nuwe tradisie is ook in hierdie tyd afgeskop toe skoolhoof Vanessa Kachelhoffer 'n nuwe plein op die skoolterrein na Ferdie vernoem het.

POLOKWANE – Die Bosveld Intervarsity is inderdaad ‘n groot affêre.

Dié kompetisie vind jaarliks tussen Hoër Tegniese Skool Tom Naudé en Hoërskool Pietersburg plaas en het sy oorsprong reeds in 1977, maar die naam was amptelik in 1981 in gebruik geneem toe Ferdie Preller die hoof van Tom Naudé was.

Tussen 1977 tot 1997 het die twee skole 27 keer teen mekaar rugby gespeel waarvan Tommies 14 keer en PHS 11 keer gewen het. Twee wedstryde was gelykop gespeel.

Vanaf 2005 tot 2015 is die kompetisie egter gestaak, tot in 2016 toe Tom Naudé besluit het om dié tradisie te laat herleef.

Vanjaar was dit Tom Naudé se beurt om gasheer te speel, en die meeste items is dus by hulle aangebied.

Die voor-items het oor twee weke plaasgevind, met die pret wat op 6 Mei met boogskiet, skaak en debat begin het.

Waar PHS nie ‘n sokkerspan het nie, het Tom Naudé nie hokkiespanne nie. Tog vind daar in hierdie sportsoorte ook wedstryde plaas en moet die skool wat nie oor ‘n span beskik nie, een vorm vir die kragmeting.

Daar is ook in jukskei en fietsry deelgeneem.

Die personeel van die twee skole het ook hulle kant gebring deur gholf, netbal en rolbal teen mekaar te speel.

‘n Nuwe tradisie is ook in hierdie tyd afgeskop toe skoolhoof Vanessa Kachelhoffer ‘n nuwe plein op die skoolterrein na Ferdie vernoem het.

“Voortaan sal elke Tommie op hulle verjaarsdag bederf word en geleentheid kry om pragfoto’s by die twee gerestoureerde kombi’s te neem. Hierdie plein is elke Tommie se goed-voel-plek.”

Die hoogtepunt was egter Saterdag toe die rugby- en netbalspanne teen mekaar te staan gekom het.

Vir ekstra vermaak het die oumanne en ouvroue ook ‘n wedstryd gespeel.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version