AfriForum se Delmas Valke Buurtwag maak Mopaniestraat mooi
“Dit is vir my verblydend om te sien hoedat ons gemeenskap saam staan en elkeen sy bydrae lewer om van ons dorp ’n skoner en veiliger blyplek te maak.”

Lede van AfriForum se Delmas Valke Buurtwag en ander vrywilligers het op 13 Mei vroeg ingespring om uitbreiding 4 op die dorp se Mopaniestraat-ingang vanaf die R50-pad op te knap en skoon te maak.
Randstene is geskoffel en geverf, rommel opgetel en stoptekens geplant. Die velde in en om die ingang is ook met behulp en bystand van lede met ’n trekker gesny.
Die span het op 15 Mei voortgegaan met die plant van stoptekens in uitbreiding 4 op Delmas.

“Ek sê vir elke besigheid en individue wat skenkings gemaak het ten opsigte van die voorsiening van stoptekens, kwaste en rollers asook die beskikbaarstelling van die trekker, baie dankie,” het Carel Botha, voorsitter van AfriForum op Delmas, gesê.
“Dit is vir my verblydend om te sien hoedat ons gemeenskap saam staan en elkeen sy bydrae lewer om van ons dorp ’n skoner en veiliger blyplek te maak. Die goeie gees waarin ons AfriForum-lede en gemeenskap saamwerk is ’n riem onder die hart,” het Botha afgesluit.
Die oggend se harde werk was met ’n gesellige worsbraai en kuier op die hoek van Mopaniestraat en die R50-pad afgesluit.










